Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Landdros-aanvaller gaan vyf jaar sit

Landdros-aanvaller gaan vyf jaar sit
 
2009-04-09

Liezl Dyson

“EK is op ’n ‘mission’ om jou dood te maak”

Dit was die woorde van die 30-jarige Leon Alexander vóór hy Streeklanddros Dudley Nel (60) verlede jaar met sy kaal hande probeer verwurg het.

Alexander, ’n pa van drie kinders, is verlede week in die Paarl Streekhof sewe jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort is, nadat hy op 7 Oktober ’n hofordonnans aangerand en Nel probeer verwurg het.

Hy is Vrydag met boeie om sy enkels die hof binnegebring, waar hy skuldig gepleit het op aanklagte van poging tot moord en aanranding.

Die hof het gehoor hoe Alexander op 7 Oktober die beskuldigdebank verlaat het en in ’n woedebui op Nel afgestorm het nadat hy Nel met die dood gedreig het.

Luidens Alexander se pleitverduideliking wat aan die hof deur sy prokureur, Vernon Ebersohn, voorgelees is, was hy daardie dag gefrustreerd en kwaad omdat die saak verskeie kere uitgestel is. Hy het dié dag op ’n aanklag van roof verskyn.

Alexander het ses vorige veroordelings wat insluit diefstal, roof, die besit van afhanklikheidvormende stowwe, huisbraak, opsetlike saakbeskadiging en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Hy kry ook reeds vir tien jaar ongeskiktheidstoelae van die staat omdat hy ’n ski­sofreen is en geestelik ongesteld is.

Ebersohn het aan die hof voorgehou dat Alexander se straf versagtmoet word omdat hy sy hande gebruik het en nie ’n wapen nie.

Volgens die getuienis van Christopher Abrahams, die staatsaanklaer die dag van die voorval, het hy gehoor hoe Alexander met die hofordonnans redeneer toe hy met die trap van die selle binne die hof gebring is.

“Toe die beskuldigde in die beskuldigdebank staan, vra die landdros vir hom of hy “okay” is, omdat hy tydens ’n vorige hofverskyning bietjie olik was,” het Abrahams getuig. Die beskuldigde het geantwoord het dat hy op ’n ‘mission’ is om die landdros dood te maak.

“Mnr Nel het nie gereageer nie en die beskuldigde het vir ’n tweede keer gesê “ek is op ’n mission om jou dood te maak” waarna hy die beskuldigdebank verlaat het en op die landdros afgepyl het.

Volgens Abrahams het die hofordonnans opgestaan en die beskuldigde probeer gryp, waarna die beskuldigde die hofordonnans met sy kop eerste op die grond gegooi het.

Daarna het die beskuldigde oor die landdros se bank gespring en agter die landdros aangehardloop. Nel het teen dié tyd reeds die hof verlaat.

Abrahams en Hadley Martin, ’n klerk by die hof, het die beskuldigde agternagesit en hom en Nel in die gang aangetref waar die beskuldigde bo-op Nel gelê en hom met beide hande verwurg het.

“Ek het net die bloed gesien op mnr Nel se kop en ek en mnr Martin het die beskuldigde se hande probeer lostrek. Hy het roggel-geluide gemaak en sy gesig was blou, ’n mens kon sien hy kry nie meer suurstof nie,” het Abrahams getuig.

Volgens Nel is hy nou bang om werk toe te kom en hy moes vir twee beradingsessiesgaan ná die voorval.

Volgens hom word gereël dat hy nie in die hof waar hy aangeval is, sake aanhoor nie.

Tydens die hofverrigting het Annette Nel, Nel se vrou, haar man se hand styf vasgehou en baie kere het die trane onbeheers oor haar wange gevloei.

Die Streekhofpresident van Bloemfontein, Moon Lalbahadur, het tydens sy uitspraak gesê dat die aanval op altwee regsbeamptes heeltemal onnodig was en dat net Alexander sal weet hoekom hy dit gedoen het.

Lalbahadur het gesê dat Alexander skuldig gepleit het, toon dat hy berou het oor wat hy gedoen het en dat daar kanse vir rehabilitasie is.

“My doel is dat alle voorsittende beamptes moet voel hulle is veilig in die hof om hul pligte uit te voer.”

Hy het gesê hy kan nie toelaat dat ’n beskuldigde so iets doen net omdat hy gefrustreerd is nie.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za