Inwoners protesteer teen plakkers
2009-04-09
Sieb Sieberhagen
INWONERS van Noorder-Paarl is verlede Donderdagaand tydens ’n vergadering wat deur die Vlakkeland Besigheidsvereniging gehou is, ingelig oor die 92 plakkershutte wat eersdaags in die Daljosafat-nywerheidsgebied opgeslaan gaan word. Inwoners van Mbekweni word na Drommedarisstraat verskuif omdat hulle in ’n Eskom-serwituut onder die oorhoofse hoogspanningslyn plak en nuwe erwe nog nie beskikbaar is nie. Sowat 70 inwoners het die vergadering bygewoon. Die Vlakkeland Besigheidsvereniging, wat onlangs in die lewe geroep is en waaraan 30 besighede reeds behoort, maak skerp kapsie teen die besluit van die Drakenstein munisipaliteit om die plakkers na die nywerheidsgebied te verskuif. Indien die munisipaliteit nie aan die versoek van Eskom gehoor gee nie, kan dit op ’n hofsaak uitloop wat die Munisipaliteit baie geld kan kos. Gerhard Visagie, wat as voorsitter by die vergadering opgetree het, het inwoners versoek om individueel teen dié hervestigingsbesluit kapsie te maak. Alle aanduidings is ook dat dié vereniging en Paarl-Noord inwoners hande sal vat om die besluit te stop. “Indien inwoners individueel kapsie aanteken, moet die Munisipaliteit ons individueel antwoord. Dit maak ook ons saak sterker indien dit sal uitloop op ’n hofgeding,” sê hy. “Daar is nie ’n omgewingsimpakstudie oor die verskuiwing gedoen nie. As daar met die planne voortgegaan word, sal nog meer mense hulle naby die Bergrivier vestig. “Die huidige rioolpompstasie kan reeds nie die volumes hanteer nie aangesien van die bedrading gereeld gesteel word. Wat gaan dit beteken as hier nog duisende mense kom intrek? “Inwoners van Paarl-Noord moet besef dat eiendomme se waardasies deur die vestiging van dié plakkerskamp nadelig beïnvloed sal word. “Indien hulle nie aan ons versoeke voldoen nie, is daar geen ander uitweg as om dit in die hof te beveg nie,” sê hy. Tydens die vergadering is daar ook ’n dokument beskikbaar gestel wat ’n uiteensetting gee van die hele aangeleentheid. Die vereniging beweer dat die munisipaliteit meer as R2,8 miljoen goedgekeur het vir die verskuiwing en dat die grondwerke van die plakkerskamp nie geadverteer is nie, maar slegs as ’n uitbreiding van ’n ander tender deurgegee is. Daar word ook beweer dat die kontrakteur deur Lyners op 19 Maart aangestel is, nog voordat die grond of geld deur die raad op 5 Maart goedgekeur is. In dié dokument word aangedui dat die kamp onder die 1:50 jaar vloedvlak lê. Die Vlakkeland Besigheidsvereniging beweer voorts dat baie meer as die genoemde 92 huise verskuif gaan word. “Die hoeveelheid mense wat onder die kraglyne plak, raak elke dag meer. Hout word ook nog steeds afgelaai waar die mense onder die kraglyne plak en die Munisipaliteit laat dit nog steeds toe. Die aantal nuwe hutte kan maklik 1000 raak (10 000 mense), pleks van 92. “Hierdie hele proses van die hervestiging was ondeursigtig en ondergronds gedoen soner dat die stadsraad daaroor besluit het. Ons wil net weet hoekom daar, terwyl daar geskikte grond binne Mbekweni beskikbaar is, ’n plakkerskamp binne ’n industriële gebied gevestig moet word en dit regoor Noorder-Paarl,” sê Gerrit van Schalkwyk, voorsitter van Vlakkeland Besigheidsvereniging. Deetlefs du Toit, raadslid van Drakenstein munisipaliteit, het ook die geleentheid gebruik om die vergadering toe te spreek oor die verhoogde eiendomswaardasies in die Paarl en hoër munisipale rekeninge wat inwoners kan verwag van 1 Julie. * A meeting was held in Paarl North last week, to protest the Drakenstein Municipality’s plan to relocated squatters from OR, north of Mbekweni, to the Dal Josaphat industrial area. Industrialists are concerned that this will affect their businesses.
More
News
|