HY is al beskryf as die ‘redder van die Afrikaanse lied’ en sy as ‘die vrou wat Breyten Breytenbach kan laat sing’.
Die toekennings wat Riku Lätti en Laurinda Hofmeyr in hul onderskeie loopbane verwerf het, kan ’n kamer vul, maar dié twee het nog nooit saam gewerk nie.
Dít verander alles op 19 April, wanneer hierdie twee grensverskuiwende musikante die eerste keer saam optree in ’n gesellige middagvertoning by Viljoensdrif op die oewers van die Breederivier in die Robertson Wynvallei.
Hofmeyr, wat in die Paarl woon, se derde en nuutste album, Reis na die Suide, is pas benoem vir ’n SAMA as beste Afrikaanse alternatiewe album.
Met haar debuutalbum Perd oor die maan en opvolger Ligdag het sy reeds die top-pryse en nominasies ingeryg.
Vir ’n vrou wat al ’n liedjie vir Madiba in opdrag geskryf en dit vir hom persoonlik uitgevoer het, is dit half ironies dat baie mense haar nog die beste ken vir ‘Ek het ’n huisie by die see’, die liedjie wat sy as tiener geskryf het en wat ’n tydlose treffer vir Laurika Rauch geword het.
Lätti is reeds ’n ster in België, maar ten spyte van verskeie skitterende albums kry hy nog nie dieselfde erkenning tuis nie – nie dat dít hom pla nie.
Hy het in 2001 aandag getrek met die album Pleister vir my Nerwe, waar hy die grense van goeie Afrikaanse kontemporêre musiek met ’n verfrissende popaanslag begin verskuif het.
Sy album Aan’t Sterre Tel (2005) was ’n kragtoer en ikone soos Steve Hofmeyr, Laurika Rauch en Paul Riekert het van die liedjies saam met hom opgeneem.
Met Radio Lava (2007), saam met Arnaud van Vliet en Jan Beukes, het hy ’n meer eksperimentele rigting ingeslaan – die album is vir verskeie toekennings benoem.
Die versamelalbum van sy beste liedjies, Die President se Keuse (2007), het die Vonk-toekenning vir Beste Alternatiewe Album gewen.
Kaartjies kos R60 en sluit ’n glas vonkelwyn in.
Kaartjies is te koop by Papaya Ink. Kontak Ronelle by 083-441-8387 of e-pos kobus@worcesterstandard .com.