Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gardens skop seisoen goed af

Gardens skop seisoen goed af
 
2009-04-09


NADAT Gardens verskeie spelers aan ander spanne afgestaan het ná verlede seisoen, het hulle Saterdag ware karakter getoon deur ’n welverdiende 40-13 oorwinning te behaal oor Paarl United.

Dit was die eerste liga-wedstryd van Paarl Streek en dit was duidelik dat beide spanne nog geroes was en gesukkel het om aan die gang te kom.

Albei spanne het, veral in die eerste helfte, baie foute gemaak en gevolglik kon die wedstryd nooit momentum kry nie.

United het eerste punte behaal met ’n strafdoel, waarna Gardens wakker geskrik het om twee drieë te druk, waarvan een verdoel was. Dit het die rustydtelling gebring op 12-3 in Gardens se guns.

Gardens het verskeie kanse om punte te behaal deur hul vingers laat glip as gevolg van swak hantering en verkeerde opsies. Dit kan hulle nog duur te staan kom dié seisoen.

Ná rustyd was daar ’n groot verbetering in Gardens se spel aangesien hul swaarder agtal meer doelgerig begin speel het. Gevolglik het hulle alle fasette oorheers.

Gardens se balbesit was beter en hulle was in staat om meer aanvalsgeleenthede te skep.

Hier was Ashwill Abrahams uitstekend vir Gardens, veral omdat die samespel tussen voor- en agterspelers goed was.

Huidiglik wil dit voorkom of Gardens se jong span ’n faktor gaan wees waarmee goed rekening gehou moet word in vanjaar se liga.

Aspekte waaraan Gardens egter aandag kan gee, is die losskrums en lynstane.

Gardens het in die laaste tien minute op hul louere gerus en gevolglik het Paarl United twee onverdoelde drieë aangeteken.

Gardens sal ook moet leer om 80 minute lank rugby te speel aangesien sterker teenstand dié aspek van hul spel kan uitbuit.

Gardens se puntemakers was Abrahams (3 drieë), Alvin Farmer, Joe Lip, Ettienne Ruiters en Theodore ‘Vere’ Dombas.

Roberto van Schoor het geslaag met vier doelskoppe en Farmer met een doelskop.

Gardens se tweede span het 15-10 geseëvier en Gardens se derdes het 33-8 gewen.

Gardens speel eerskomende Saterdag teen Hamiltons (Worcester) op Esselenpark. Die bus vertrek om 11:00. Koste is R10


* SATERDAG moes Paarl Rangers se eerste rugbyspan die knie buig teen ’n begeesterde span van Young Stars.

Die eindtelling was 28-12 in die guns van Young Stars.

’n Gebrek aan kommunikasie tussen voor- en agterspelers was uiteindelik die span van die Paarl se ondergang.

Rangers se tweede en derde spanne het onderskeidelik 12-7 en 25-5 gewen.

Rangers se volgende wedstryd is op 18 April teen Kylemore te Kylemore.


* DIE eerste rugbyspan van Riverstones het Saterdag ’n skitterende oorwinning van 40-5 behaal oor Allandale te Drakenstein Korrektiewe Dienste.

Riverstones het dié wedstryd, wat teen ’n hoë pas gespeel is, van meet af beheer toe Chris Mauwers reeds binne die eerste vyf minute onder die verdedigers van Allandale uitgenael het om sy losskakel weg te stuur vir ’n pragdrie onder die pale.

’n Teenvoeter vir Riverstones se voorspelers kon Allandale ook nie kry nie, met veral die wenspan se voorry wat hul opponente oorhoops gehad het met kragtige dryfspel.

Riverstones se drieë is gedruk deur Mouwers (2 drieë), Donovan Hougaardt, Gershwin Claasen, Morgan du Plessis en Jeremy van Neel.

Mouwers het 4 drieë verdoel en Hougaardt het een doelskop behaal.

Riverstones se tweede span het 17-5 geseëvier, die derdes het 24-10 gewen en Riverstones se o.12’s het 22-0 gewen.

Op 18 April speel Riverstones teen Vineyards te Daljosafat-stadion.


* IN ’n wedstryd wat gesien kan word as een van twee helftes, het Albions Rugbyklub Saterdag verspot maklik punte in die eerste helfte afgestaan teen Harlequins.

Die eindtelling was 18-27 teen die besoekende Albions, maar laasgenoemde het teruggeveg na ’n 20-0 agterstand teen rustyd.

Met Albions se lostrio wat in die tweede helfte goed gekombineer het en die slot Warren Pheiffer wat uitgeblink het in die lynstane, was Harlequins op die agtervoet gedwing en kon die besoekers meer aanvallend speel.

Albions se losskakel Lincoln du Preez het die voordeellyn gedurig aangeval om aan sy span momentum te verskaf.

Die speler wat sy hand die hoogste opgesteek het, was Albions se senter Mervyn Visser. Visser was dodelik op die aanval en saam met die flank Leigh Marquard het dié duo puik verdedig. Marquard was ook beloon met ’n drie.

Du Preez het ook gaan druk en was in die kol met een doelskop en twee strafdoele.

Albions se tweede span het 11-12 vasgeval en die derde span het 5-3 gewen.

Albions oefen vanaand, en volgende week Dinsdag en Donderdag, om 18:00.


* YOUNG STANDARDS het Saterdag met ’n oorwinning van 47-5 maklik klaargespeel met Simondium op die Sanddrift-terrein in die Paarl.

Standards was van meet af in beheer van sake en hulle het nooit hul teenstanders toegelaat om in die wedstryd te kom nie.

Aggressiewe kragspel voorlangs was uiteindelik Standards se wenresep, wat die deur oopgemaak het vir Angus Lewis om ’n reuse-bydrae te maak met ’n driekuns aan drieë. Lewis se vertoning is veral verblydend aangesien hy sy terugkeer gemaak het na ’n lang besering.

Ander driedrukkers vir Standards was Conville Cleophas, Dewald Goliath, Hennie Johnson en Henrico Davey.

Davey was ook in die kol met ses doelskoppe.

Standards se tweede span het die knie gebuig met 5-18 terwyl Standards se derdes met dieselfde telling as die eerste span (47-5) geseëvier het.

Standards hou Donderdagaand om 20:00 ’n dans by Two Shots Disco.


* DIE eerste rugbyspan van Violets het Saterdag met 17-19 vasgeval teen Laer Paarl (Blues) op die Sanddrift-sportterrein.

Beide spanne se verdediging is gedurig op die proef gestel, met Blues wat eerste bloed geruik het toe die senter Edward Pietersen ’n drie behaal het.

Ondanks die kleitrappery het Violets se staatmakers, Sidwell Koopman, Tino Prins, Monrico Carollissen en Dorian Isaacs, steeds hul harte uitgespeel.

Blues se tweede span het hul eweknie van Violets maklik getroef met 29-0, terwyl Blues se derdes ook geseëvier het met 13-7.

In die junior wedstryde het Blues se o.12’s klei getrap terwyl Blues se o.14’s gewen het.

* Blues speel 18 April teen Young Standards. Alle spelers is welkom om die oefeninge Dinsdae en Donderdae by te woon op die New Orleans sportvelde.

* Violets speel 18 April teen Paarl United. Die klub verwag dat alle spelers Dinsdag en Donderdag op die oefenveld, by Laerskool Paulus Joubert sal wees.

Violets bied Donderdag ’n dans aan by Charlie’s om 20:00.


* HILLCREST UNITED moes tydens Saterdag se rugbywedstryd diep op sy tuisveld delf om vir Bella Vista 20-14 ore aan te sit.

Met ’n baie sterk wind in hul blaaie was die tuisspan oorhaastig en kon hulle gevolglik nie hul voordeel effektief benut nie.

Hillcrest was 3-6 agter teen rustyd.

In die tweede helfte het Hillcrest se voorspelers die bal beter beskerm en met hul gevreesde rolmaal-bewegings begin om beheer oor die wedstryd te neem.

Dit was definitief ’n beter wedstrydplan vir die tuisspan aangesien min spanne by Hillcrest kan kers vashou wanneer dit by voorlangse inklimspel kom.

Met die voorspelers op die voorvoet kon Hillcrest se losskakel Conroy Gertse sy stempel afdruk en met sy skopvoet kon die tuisspan beheer oor die wedstryd neem.

Vir Hillcrest het Gertse vier strafdoele en een skepdoel behaal, met die regtervleuel Randall Rudolph wat ’n briljante drie gedruk het.


* MET sy groot pak voorspelers op dreef het Villagers Rugbyklub Saterdag vir Counties geskok deur met 20-11 te seëvier.

Villagers het van meet af druk op Counties geplaas en sodoende ’n drie in die eerste helfte van die wedstryd gedruk. Agterlangs het Villagers ook te veel skietgoed gehad.

Villagers se driedrukkers was Alfrede Japhta en Wayne Williams.

Bjorn Hollenbach het met twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag, terwyl Lee-Irvin Alexander ’n strafdoel behaal het.

Villagers speel eerskomende Saterdag tuis teen Adelaars.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za