Windmeul baas in titaniese stryd
2009-04-09
DIE huidige Paarl streekkampioen, Windmeul United Rugbyklub, het Saterdag groot geskrik op sy tuisveld in Agter-Paarl toe Vineyards amper ’n prag-oorwinning behaal het. Windmeul het egter vasgebyt om dié naelbytstryd 37-30 te wen. Sterk op die aanval het Vineyards eerste punte behaal toe hulle ’n strafdoel voor die pale oorgeklits het. Windmeul het teruggeantwoord met ’n verdoelde drie deur Jannie Williams, maar Vineyards het sterk teruggeveg om twee pragtige agterlyndrieë te behaal. Dit het die rustydtelling te staan gebring op 23-7 vir Vineyards. Na die breuk het Windmeul eerste bloed geruik met ’n skitter-drie. Dit was gevolg deur nog twee puik drieë om die telling 34-23 te maak in die guns van die tuisspan. Vineyards het hierop gereageer met ’n vyfpunter, maar dit was tevergeefs en Windmeul het 37-30 geseëvier. Volgens verskeie bestuurslede van Vine-yards, was twee sekere drieë, een in elke helfte, nie aan hul span toegeken nie. Terwyl die eerste drie aan Vineyards ’n stewige voorsprong sou gee, was dit die drie in die laaste minuut, gedruk deur die flank Wasfi Nackerdien, wat nog lank by die klub kan spook. Die skeidsregter het aanvanklik dié ‘wen-drie’ aan Vineyards toegeken, net om dit kort daarna weer teruggetrek. Vineyards se drieë is gedruk deur Adlee Moerat, Niyaaz Abrahams en Enrico Jordaan. Jordaan het ook 15 punte met sy skopskoen behaal (insluitend twee skepskoppe). In ander wedstryde het Windmeul se tweede span met 24-18 gewen en Windmeul se derde span het met 19-21 verloor. * Windmeul speel Saterdag 18 April in hul tweede liga-wedstryd teen Young Gardens in Agter-Paarl. * Vineyards speel op 18 April teen Riverstones. Die klub vertrek môre na George vir hul Paasfeestoernooi om 07:00 vanaf die Madrassah in Lappertsstraat. Sitplekke is R800 vir toeskouers en R500 vir spelers. Dag besoekers sal R50 per dag betaal vir verblyf in die Pine Lodge in George.
More
News
|