Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'n Goeie buurman is sy gewig in goud werd

'n Goeie buurman is sy gewig in goud werd
 
2009-04-16


IN menslike heugenis is daar verskeie gebeurtenisse wat plaasgevind het wat die hele wêreld aan die gons kry. Miljoene mense is so aangegryp dat hulle vir die res van hul lewens vertel en onthou waar hulle daardie dag was.

My ma kan vertel van hoe hulle voor die radio vasgenael was toe die nuus van die sluipmoorde van John F Kennedy en Hendrik Verwoerd bekend gemaak is.

En as Elvis-liefhebber, die dag toe sy tragiese dood aangekondig is.

In my leeftyd was twee van hierdie gebeure: Nelson Mandela se vrylating en 9/11, toe die wêreld letterlik tot stilstand gekom het met die terreuraanval op Amerika.

Ons almal sal eendag vir ons kleinkinders kan vertel dat ons ‘daar’ was toe hierdie gebeurtenisse plaasgevind het.

En onlangs is die Paarl self geruk deur ’n gebeurtenis wat steeds lank onthou sal word, naamlik die verwoestende brand op Paarlberg.

As ek my oë toemaak en terugdink aan daardie chaotiese paar dae, is die eerste herinnering wat in my kop vassteek, die heel eerste halfuur van die brand.

Toevallig was ek die aand tussen Wellington en die Paarl by ’n funksie. Toe ek so halftien by Noorder-Paarl inry, kon ek ’n dowwe pienk geflikker in die middel van die berg sien.

Daar was nog nie die vlammehel soos ’n bietjie later nie, net ’n effense lig, soos dié van ’n stadige hartklop.

Min het ek geweet dat die bron van die brand slegs twee honderd meter vanaf my eie huis was.

Teen die tyd dat ek my huis bereik het, het die vlamme meters ver in die lug opgeskiet en die buurt soos met ’n vuurwerkvertoning verlig.

Mense van oral af het uit nuuskierigheid na die toneel gestroom.

Ek en my familie was tot die vroeë oggendure wakker, hoekom weet ek nie so mooi nie, want daar was eintlik niks wat ons daaromtrent kon doen nie. En die kans dat die brand ons huis sou bereik, was maar bitter min.

Soos ons almal weet, was die Paarl vir die volgende paar dae in die ergste chaos gedompel.

Nadat die vlamme uiteindelik geblus was, het die stories self soos ’n veldbrand deur die dorp geloop. En die helde van die dag was die Paarliete self wat onbaatsugtig ingespring het om óf die brand te help bestry, óf om hand by te sit om hul bure te help.

Daar is liters koeldrank, water en eetgoed aangedra. En dit als terwyl die kwik tot byna barstens toe gestyg het in ons vallei.

Maar weke ná die brand kan ek nie help om te wonder of hierdie buurmanskap steeds bestaan nie.

As ek net kyk na my kleine straatjie is hier heelwat vyandigheid onder party van my bure.

Een buurvrou, byvoorbeeld, raak so histeries as ’n kat in haar erf kom, dat sy reeds van hulle ontvoer het en in die verte gelaat het.

Of ’n ander een wat oorlog verklaar het teen sy buurman se blaffende honde. En ’n ander teenoor kinders wat vrolik in die straat speel.

Maar toe ek hier grootgeword het, was dinge anders. Almal het mekaar geken en sommer saamgekuier.

Ons het vanuit die stad hierheen getrek in die laat sewentigerjare. Skaars was ons in ons nuwe huis toe mevrou Human een middag aan ons voordeur klop. Dit was dié aand haar seun se 21ste verjaarsdagpartytjie, verduidelik sy, en as die geraas te veel raak moet ons net laat weet.

Natuurlik was daar dié aand ’n heerlike rumoer langsaan, maar weens hul ordentlikheid om by ons aan te klop, het dit nie gesteur nie.

Dan was daar nog ’n buurvrou, mevrou Catelli. Sy was mal oor kinders en het bakke vol van die heerlikste tuisgemaakte pizza en pasta by ons aangedra terwyl my ouers gewerk het.

Toe my laatlam-sussie later haar verskyning maak, was sy haar tweede ma.

Om nie te praat van die De Bruyns wat op die hoek bo-kant ons gewoon het nie. So het ons die Paarl leer ken, een met ’n hart en siel.

Wat my wel nou die dag hoop gegee het, was toe my direkte buurman by my deur aangeklop het en verskoning gevra het dat daar vir die volgende paar dae sierstene op die sypaadjie voor my huis moes staan, terwyl sy oprit geplavei word.

Nee wat, sê ek, dit pla mos nie. Maar, dink ek, as iemand anders hier gebly het, kon dit dalk vir hulle pla. Hoekom weet ek nie.

Ons bou ons deesdae toe van die buite-wêreld af, asof ons in forte leef. En hiermee raak ons al hoe meer onverdraagsaam.

Buurmanskap bestaan al hoe minder en baie van ons ken nie eens ons bure se name nie.

Dus hoop ek dat diegene wat wel nuwe bure ontmoet het tydens die Paarlberg-brand, daardie verwantskap styf aan die hart sal druk. ’n Goeie buurman is sy gewig in goud werd.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za