IETS wat my na aan die hart lê is die welvaart van ons kinders, veral ons kinders wat pas skool toe gegaan het en in graad een is.
My dogtertjie het haar kos by die huis vergeet en my vrou moes dit neem na die skool.
Sy was hoogs ontsteld toe sy die klas nader en die optrede van die onderwyseres waarneem. ’n Seuntjie was verskreeu en was geslaan met haar skoen op ’n manier wat nie aanvaarbaar is nie. ‘n Ander onderwyseres staan slegs met ’n glimlag op die gesig en skep die indruk dat haar hande afgekap is.
Ons kinders se karakter word gevorm op hierdie jeugdige ouderdom, maar kan afgebreek word deur die optrede van ’n onderwyseres wat nie weet hoe om haar humeur te beteuel nie.
Wat my dwars in die krop steek, is dat daar soveel onderwysers is wat kennis dra van hierdie spesifieke onderwyseres se optrede en ons selfs gewaarsku het om nie ons kind in hierdie skool te plaas nie.
Ná hierdie geval het ek onmiddellik die telefoon opgetel en dit onder die hoof se aandag gebring. Daar sal optrede moet plaasvind, maar volgens die hoof kan dit die skool ’n swak naam gee.
Maar wat van die selfbeeld van die kind wat soveel skade berokken word op die langtermyn? Ek verwag nie van die onderwyseres om ’n genie van my kind te maak nie, maar gee hulle volop liefde en aandag en dan sal jou taak soveel makliker wees.
’n Persoon wat oorgaan tot geweld is ’n persoon wat nie ’n boodskap op ’n regte manier kan oordra nie, en is oor die algemeen ’n verloorder. Opvoeding is ’n proses wat oor jare plaasvind en as die afskoppunt nie reg was nie, in hierdie geval graad een, gaan dit nadelige gevolge vir die kind inhou.Mario Matthews