Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Onderhandelinge oor plakkers duur voort

Onderhandelinge oor plakkers duur voort
 
2009-04-16

Sieb Sieberhagen

ONDERHANDELINGE oor die voorgestelde verskuiwing van plakkers na erf 584 aangrensend aan die Daljosafat nywerheidsgebied, is steeds aan die gang.

Alhoewel die gebied gesoneer is vir behuising, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat die 92 plakkers wel daarheen gaan skuif nie.

Nyweraars van die gebied is sterk gekant teen ’n besluit om die plakkers wat tans onder ’n hoogspanningslyn woon, na hierdie terrein te skuif en ’n protesvergadering is voorverlede week in Noorder-Paarl gehou.

Tommy Matthee, direkteur van sosiale dienste van die Drakenstein munisipaliteit, sê dat hulle nie blind is nie en vir die beste oplossing soek.

“Ons kyk na alle opsies en is nog in ’n konsultasieproses om die beste oplossing vir die probleem te kry. Ons het op ’n burgemeesterkomitee-vergadering besluit dat alle partye hierin geken sal word.

“Ons besef dat die nywerhede daardeur geraak word en kyk ook na ander opsies.

“Ons het na ander gebiede gekyk, maar om infrastruktuur te skep sal ’n baie duurder proses wees.”

Die nyweraars het intussen die Vlakkeland Besigheidsvereniging gestig en ’n prokureur aangestel om met die munisipaliteit te onderhandel. Verskeie skriftelike besware van nyweraars asook ’n petisie is reeds by die munisipaliteit ingehandig.

Die nyweraars meen dat dié “tydelike” vestiging permanent kan raak en vir baie sosio-ekonomiese en maatskaplike probleme kan sorg wat hul ondernemings sal bedreig.

Drakenstein munisipaliteit moet aan die ander kant so gou as moontlik aan Eskom gehoor gee deur die plakkers in Swartbergstraat onder die hoogspanningsdrade te verwyder. Hulle sê die verskuiwing sal net vir ongeveer twee jaar wees.

Eskom het intussen die kragpaal waar skade onlangs deur ’n brand aangerig is, herstel, maar volgens Matthee is die kragtoevoer op die lyn nog nie herstel nie.

“Ons is genoodsaak om die mense te verwyder omdat Eskom voor die winter dié kraglyne weer in werking wil hê. Indien dit nie gebeur nie, kan naburige dorpe en Paarl probleme met krag ondervind.

“Dit raak nou ’n swart-wit ding met ’n rassistiese ondertoon,” sê Matthee.

“Ons onderneem om die plakkers (92 huise) te skuif na ’n georganiseerde en goed-beheerde gebied wat basiese geriewe soos water en riolering insluit.

“Ons onderneem om die gebied te omhein en ’n inwonerskomitee in die lewe te roep, wat sal toesien dat beheer uitgeoefen word.

“En ons sal dit op skrif sit sodra albei partye tot ’n vergelyk gekom het,” sê hy.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za