Man vas ná verskeie huisbrake
2009-04-16
Lise Beyers
’n VERMEENDE handelaar in dwelms en gesteelde goedere is die afgelope naweek in hegtenis geneem in Lanquedoc. Die Groot Drakenstein polisie het die afgelope drie weke ’n toename beleef in huisbrake. In hierdie tydperk is daar ook verskeie kere ingebreek by die spoglandgoed, Boschendal. Verlede week is een van die bestuurders hiér, Neil Els, aangeval, toe hy gaan ondersoek instel het by die restaurant, nadat die diefalarm geaktiveer is. Hy het die gebou oopgesluit en is binne die gebou deur ’n onbekende persoon oorrompel en geslaan. Die vermeende dief het hierna die pad gevat. Polisiespeurders was intussen druk besig om alle leidrade op te volg om die rowers hok te slaan. Hulle het die boerpot geslaan toe hulle vanuit die gevangenis verneem het van ’n inwoner van Lanquedoc wat handel dryf in gesteelde goedere. Speurders is na die gebied en die verdagte, Thando Solonisi, is langs die pad aangetref en deur die polisie beveel om vir hulle na sy woning te neem. Hulle is saam met hom na Baardstraat waar heelwat gesteelde goedere gevind is. Dit is reeds bevestig dat van hierdie goedere by Boschendal gesteel is, sowel as by St Giles Kerk in Lanquedoc. ’n Klein hoeveelheid Tik is ook in die besit van Solonisi gevind, en hy is in hegtenis geneem. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat dit nou die tendens van dwelmsmouse is om Tik te ruil vir gesteelde goedere. “Tik-verslaafdes is so desperaat dat hulle ’n televisiestel ter waarde van duisende rande sal verkoop vir R80 se Tik. “Die handelaar sê ook soms vooraf vir die verslaafde dat hy byvoorbeeld ’n hoëtroustel soek vir betaling vir Tik. Dan gaan steel die verslaafde eenvoudig dit om vir sy volgende regmaker te betaal.” Tydens die klopjag op Solonisi se woning is DVD-spelers, hoëtroustelle, ’n mikrogolfoond, gereedskap en boumateriaal gevind. Enigiemand wat dink dat van hierdie goedere aan hulle behoort, moet die Groot Drakenstein polisie kontak by 021-874-8000. * An alleged dealer in drugs and stolen goods has been arrested in Groot Drakenstein, after numerous burglaries at Boschendal.
More
News
|