Bekendes praat by Agri Week
2009-04-16
DAAR is groot belangstelling in die Agri Cape Week wat vandag tot Saterdag aangebied word op die terrein van die Hoër Landbouskool Boland in Agter-Paarl. Die suksesvolle konsep wat ontwikkel is by die Agri Megaweek in Bredasdorp word by die Paarl voortgesit met die fokus op vrugte, wingerd en groente. Daar word oor die drie dae ’n propvol program aangebied wat werkswinkels, demonstrasies, tentoonstellings en kursusse insluit. Vanoggend praat dr Roelof Botha, ’n bekende ekonoom, tydens Agri Wes-Kaap se streeksvergadering oor “Die tyd is nou” in die eetsaal van Huis Nico Malan. Daar is vandag en môre ’n voldagkursus in hidroponika en kweekhuise asook ’n konferensie vir opkomende boere. Vrydagoggend om 08:00 word ’n besigheidsontbyt gehou waar die effek, tendense en vooruitskouings rondom landbou-kommoditeite in die lig van die huidige ekonomie, bespreek word. Sprekers by dié geleentheid is Cees Bruggemans (FNB), Anton Rabé (vrugtebedryf), Su Birch (wynbedryf) en Jan van Zyl (Direkteur van Landbou-inligting en Bemarking). Die fasiliteerder is Wiehahn Victor, hoof uitvoerende beampte van die Inmaakvrugte Produsentevereniging. Vrydag van 10:30 is daar ook ’n werkswinkel oor die Agri SEB telkaart en Vinpro bied terselfdertyd ’n inligtingsdag oor gepaste kultivars vir klimaatsverandering in die Wynlande. Môremiddag om 14:00 is daar ’n verkiesingsdebat met politieke leiers wat praat oor hul landbouvisie. Dit word op RSG uitgesaai, met Freek Robinson as gespreksleier. Saterdagoggend word gewy aan ’n plaaswerkerskonferensie. Saterdag is ook ’n rugbydag wanneer Hoër Landbouskool Boland teen Wynberg Seunskool speel (die 0.19A span speel 13:00). Daar is ook ’n plaaswerf met diere en ponieritte. Vir meer besonderhede, besoek www. agrimega.co.za.
More
News
|