Young Gardens delf onderspit in vriendskaplike wedstryd
2009-04-16
YOUNG GARDENS het Saterdag in ’n vriendskaplike rugbywedstryd te staan gekom teen Young Hamiltons van Worcester, te Esselen Park, waar eersgenoemde die knie gebuig het met 25-15. Die wedstryd was teen ’n vinnige tempo gespeel, met Hamiltons wat uitstekende samespel gelewer het aangesien hulle vir die eerste 20 minute balbesit gedomineer het en uit alle hoeke van die veld aangeval het. Ná die eerste twintig minute moes Gardens net hul keer ken. Hamiltons se voor- en agterspelers het goed gekombineer en ondersteunende spel gelewer wat die Paarliete deurgaans onder druk geplaas het. Gardens se verdediging was gevolglik ongeorganiseerd, wat daartoe gelei het dat Hamiltons twee onverdoelde drieë behaal het. Gardens het kort voor rustyd, teen die verloop van die spel, ’n strafdoel behaal deur Johan Alphons, gevolg deur ’n drie deur Gardens se Justin van Schoor om met ’n 8-10 agterstand te gaan rus. Ná die aanvang van die tweede helfte het Hamiltons voortgegaan om Gardens onder druk te plaas. Die tuisspan het vir Gardens veral in die skrums in trurat gedwing. Gardens se lynstane was uitstekend, maar die span kon nie aanvalle daarvandaan loods nie aangesien hul same- en ondersteunende spel gebrekkig was. Hamiltons se agterlyn het boonop goed gekombineer en die span het ver ente veld gewen met hul aanvallende spel. Gardens se agterlyn het ook hul opponente se taak vergemaklik aangesien hulle nooit druk op Hamiltons se agterlyn toegepas het nie. Hamiltons het in die laaste 20 minute nog twee drieë aangeteken waarvan een verdoel was. Gardens se Ettienne Ruiters het in die laaste minuut van die wedstryd egter ’n troosdrie aangeteken wat deur Farmer verdoel is. Die eindtelling was 25-15 in Hamiltons se guns. Spelers van Gardens wat hard probeer het, was Alvin Farmer, Isaacs de Jager, Graig Johnson, Morné du Preez, Renaldo Matthee en Glen Scholtz. Dié wedstryd het gedien as goeie oefening vir Gardens aangesien die span se foute nou blootgestel is vir die afrigters om hul span se growwe kante glad te skaaf voor die span se volgende ligawedstryde. Gardens se tweede span het 8-13 verloor en die derdes het 5-54 verloor. Gardens speel eerskomende Saterdag weg teen Windmeul United by Windmeul Primêre Skool. Die junior spanne (o.12 ,o.14 en o.16) begin om 10:00. * Gardens bied ’n Freedom Dance aan te Peter Cellars op 21 April om 20:00 teen R20 per persoon.
More
News
|