Tiere behaal puik oorwinning
2009-04-16
DIE eerste rugbyspan van Young Peoples het verlede Saterdag, op Faurestraat-stadion, die seisoen op ’n hoë noot afgeskop toe hulle die gedugte span van Bellville-Tech met 19-16 geklop het in ’n Superiga B kragmeting. Die stryd tussen die twee spanne se voorspelers was verwoed, met die Tiere wat hul man deeglik in die skrums en in die lynstane gestaan het. Die Tiere het met goeie verdediging telkemale die voorspeler-momentum van Bellville-Tech gebreek. Peoples het eerste punte aangeteken met ’n strafdoel deur die losskakel Dominique Daniels. Die Tiere het met tempo-rugby die swaar voorspelers van Bellville-Tech oor die veld gespeel en goeie spel tussen die losvoorspelers het veroorsaak dat Oswill Thomas die Tiere se eerste drie gaan druk het. Net voor rustyd het die Tiere momentum verloor en Bellville-Tech het na ’n skewe ingooi op die Tiere se kwartlyn hul enigste drie gaan druk. Die spanne het gaan rus met die telling op 8-10 in die guns van die besoekers. In die tweede helfte het die Tiere met hernieude vuur gespeel en ná ’n stewige skrum is Francois Julies oor vir Peoples se tweede drie, waarna Dominique Daniels nog drie strafdoele by Tiere se telling gevoeg het. Bellville-Tech het ook twee strafdoele van hul eie oorgeklits. Die Tiere moes die laaste vyftien minute van die wedstryd verwoed keer om die span van Bellville-Tech, met Quinton Davids aan die spits, van hul doellyn af te hou. Die besoekers kon egter nie die verdedigingsmuur van die Tiere breek nie. Uiteindelik was dit die samespel van Peoples se losvoorspelers en die skrumwerk van die vaste vyf wat die grondslag vir die Tiere se puik oorwinning gelê het. Peoples se tweede span het met 8-28 vasgeval terwyl Peoples se derde span met 6-12 aan die verloorkant was. Peoples se o.20’s het 11-21 verloor. Peoples speel Saterdag op Lentegeur teen Collegians. Die bus vertrek om 10:30 uit Groenheuwel teen R20 vir toeskouers.
More
News
|