DIE sangers Alta Joubert en Gerald Clark tree op Vrydag 17 April om 20:00 saam op by die Ou Meul-teater.
Hulle gaan albei meestal liedjies van hul nuwe albums sing.
Joubert is welbekend in die Afrikaanse musiekkringe en sy het haar eerste CD, Warrelwinde in 2004 vrygestel. In dié jaar was sy RSG se kunstenaar van die jaar, en dus word haar liedjies gereeld op die radiostasie gehoor.
Haar nuutste album is Songs vir my Suiderkruis. Joubert sing (in beide Afrikaans en Engels) oor die lewe suid van die ewenaar, haar land en menslikheid in die alledaagse.
Gehore kan uitsien na toonsettings van bekende tekste, sowel as ’n unieke klank en aanslag van die oorspronklike Joubert.
Die ontwikkelde klank getuig van ’n volgroeidheid wat tydsverloop die kunstenaar bied. Sy is ’n eerlike en waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse platvorm.
Clark word onder Suid-Afrikaanse sangers en musikante gereken as een van die grootste en kraakvarsste talente in ons land.
Met sy debuut Afrikaanse album, Sweepslag, maak hy emosies wakker en laat hy mense ril van lekkerkry met sy rou kitaarklanke, sterk lirieke en stem wat jou na ’n plek neem waar jy nog nooit was nie.
Clark is uniek en ongelooflik talentvol. Die akoestiese kitare is diep en sielvol terwyl sy stem en die lirieke jou voet onwillekeurig laat ritme hou.
Kaartjies is R60 en moet by 083-708-4917 bespreek word.