Skole opgeskerp
2009-04-16
Jaco van Wyk
SKOLE van die Paarl het goeie uitslae behaal tydens verskeie Paasnaweek-rugbytoernooie wat die afgelope naweek oor die land plaasgevind het. Tydens die FNB St John’s Paasfeestoernooi, waar Hoër Jongenskool Paarl se o.19 A’s jaarliks sy staal ten toon gaan stel, het die Paarliete teruggekeer met twee oorwinnings en ’n nederlaag. Op die eerste dag van die toernooi het die Boishaaiers te staan gekom teen die gasheerspan, St John’s. HJS het egter maklik klaargespeel met hul opponente deur ’n 46-13 oorwinning te bewerkstellig. Die Paarliete het hul wenmomentum oorgedra na die tweede dag van die toernooi deur vir Monument met 23-15 te troef, maar het op die laaste dag die knie gebuig teen Affies (30-15). Tydens die Waterkloof Internasionale Sporttoernooi - ’n gemengde toernooi waar verskillende sportsoorte plaasgevind het - het Hoërskool Gimnasium se o.19 A’s ook gemengde welslae behaal toe hulle twee oorwinnings en een nederlaag behaal het. Op die eerste dag van die toernooi het die Gimmies teen Kemptonpark kragte gemeet en met 20-10 as oorwinnaars uit dié stryd getree. Op die tweede dag het die Gimmies vasgeval teen die gasheerskool, Waterkloof (12-17), waarna hulle die toernooi met ’n oorwinning afgesluit het teen Hans Merensky van Tzaneen (20-17). Hoër Landbouskool Boland se o.19 A’s het sy buurskole van die Paarl heel toevallig nagedoen deur ook twee uit sy drie wedstryde te wen tydens die FNB St Stithians Paasfees-rugbytoernooi. Op die eerste dag het die manne van Landbou met 27-14 geseëvier teen Parktown, waarna hulle op die tweede dag vir St Charles met 32-7 geklop het. Op die derde dag het die span van St Andrews net-net te veel skietgoed gehad vir Landbou deur laasgenoemde met 9-7 te troef. Verlede naweek het Hoërskool Hugenote se eerste rugbyspan deelgeneem aan die Vodacom-week op Stellenbosch. Hugenote het op die Saterdag hul eerste wedstryd, teen Hoërskool Grens, maklik gewen met 49-0. Die Wellingtonners het hul tweede wedstryd, op die Maandag, 10-16 verloor teen Landboudal (Landbouskool Jacobsdal) waarna hulle verlede Woensdag die toernooi afgesluit het met ’n 34-24 oorwinning oor HTS Bellville. In ’n ander kragmeting het New Orleans Sekondêr onlangs ’n 21-15 oorwinning behaal oor Tulbagh. Dié vriendskaplike wedstryd het plaasgevind op die Boy Louw-sportgronde. Eerskomende Saterdag speel Gim tuis teen Rondebosch, Hoër Landbouskool Boland speel tuis teen Wynberg, HJS speel weg teen Stellenberg en Hugenote speel weg teen Sacs. * In die Paarl het Hoërskool Gimnasium en Hoër Jongen- skool onderskeidelik ’n o.16 Rugbytoernooi en ’n o.15 Rugbytoernooi aangebied. Gim se o.16-span het drie wedstryde gespeel, teen Grey College (verloor 29-10), Centurion (wen 45-5) en EG Jansen (wen 24-10). HJS se o.15-span het drie wedstryde gespeel, teen Framesby (wen 52-0), Glenwood (wen 18-5) en Waterkloof (verloor 14-24).
More
News
|