Christiaan is paalspring-sensasie
2009-04-16
Jaco van Wyk
DIE smaak van sukses is iets wat Christiaan Norman teen dié tyd al baie goed ken. Dit is duidelik ook ’n smaak waarvan dié 17-jarige Gimmie nie genoeg kan kry nie - ook maar goed so, want dit lyk nie of Christiaan binnekort gaan ophou om die medaljes in te ryg in die paalspring-items nie. Onder die afrigting van Louis Nienaber het Christiaan vanjaar, asook verlede jaar, die een prestasie na die ander behaal. Verlede week het hy weer eens uitgeblink toe hy ’n goue medalje losgespring het tydens die SA Hoërskole Atletiekkampioenskappe wat in Durban plaasgevind het. Vroeër vanjaar het Christiaan ook goud verower tydens die Boland Kampioenskappe op Coetzenburg asook goud by die Geelbladsye Atletiekkampioenskappe in Stellenbosch. Tydens die Wes-Kaap Kampioenskappe wat op die Daljosafat-stadion plaasgevind het, het Christiaan silwer gewen en by die SA Jeug en Junior Kampioenskappe in Pretoria het hy dieselfde gedoen. Verlede jaar het Christiaan ook nooit lyf weggesteek nie, en is hy na afloop van ’n puik jaar gekies vir die SA span om deel te neem aan die Suidelike Afrika Spele wat in Pretoria gehou was. Daar het Christiaan klaargespeel met deelnemers afkomstig van ander suidelike lande in Afrika om sy soveelste goue medalje van die jaar te verower. Volgens dié matrikulant is sy paalspring-sukses te danke aan ’n kombinasie van geloof en harde werk. “My prestasies is te danke aan die harde werk wat ek insit op die oefenveld, asook my geloof in die Here. Ek het ’n baie sterk verhouding met Hom.” Christiaan is vasbeslote om die hoogtes nog verder in te spring deur sy talent verder te ontwikkel in die toekoms. “Ek is tans op ’n streng winterprogram met die oog op die Junior Wêreldspele wat volgende jaar in Kanada plaasvind. Dit is my korttermyn-doelwit. “My langtermyn-doelwit is om eendag deel te neem aan die Olimpiese Spele.”
More
News
|