Gewone dag ontaard in nagmerrie
2009-04-23
Lise Beyers
DIT was ’n gewone werksoggend. Daar was ’n koelte in die lug ná vroeë oggendreëns en die personeel van Paarl Print het soos by enige ander besigheid in Daljosafat na hul werksplek gestroom. Min het enigiemand geweet dat binne enkele ure die dodetal by Paarl Print op nege sou staan, met nog elf werkers wat gehospitaliseer is. Die brand het Dinsdag nog ’n slagoffer geëis, toe Pieter Saayman van Wellington aan sy beserings gesterf het. En Woensdagmiddag is Liezl Jacobs (27) ook oorlede. Gerard Mans (36) het sy lewe verloor nadat hy teruggedraai het om ’n kollega, Marcelle Basson, wat ’n asma-leier is, te probeer red. Mans en Basson, asook nog ’n kollega, Thys de Vries, het saam in ’n kantoor aan rookversmoring omgekom. Volgens reddingswerkers het die drie aanmekaar vasgeklou toe hulle gesterf het. Mans het vir 15 jaar by Paarl Print gewerk, en was tans plaat-litograaf. Sy vrou, Alma, sê dat die manier waarop hy gesterf het, is ’n getuienis van sy geaardheid. “Hy was altyd die eerste om te help en het altyd sy medemens voor homself geplaas.” Die egpaar het drie jong kinders, Almé (9) en ’n tweeling, Dané en Duan (5). Hy word vandag om 10:00 vanuit die Protea Aanbidding-sentrum begrawe. Thys de Vries (51), ’n bekende in die geledere van Boland Atletiek, het vir vier jaar as gehaltebeheerder by Paarl Print gewerk. De Vries het as junior en senior atleet in stapkompetisies gepresteer. Hy het later betrokke geraak by atletiekafrigting en het gedien as provinsiale koördineerder. Hy was vir 30 jaar aktief betrokke by Daljosafat-stadion. De Vries word oorleef deur sy vrou Linda en kinders Theresa (27) en Terence (24). Hy word Saterdag ter ruste gelê vanuit VGK Huguenot met besigtiging van 09:00 en die diens om 10:00. Marcelle Basson (39), ’n produksiebeplanner, word oorleef deur haar man Herman en twee kinders, Neil en Amanda. ’n Dankdiens vind vanmiddag plaas by die NGK in Sarel Cillierstraat, Parow. Nog ’n slagoffer, Patricia Stoffels (35), was ’n belowende assistent in die bindery. Haar man, Edwin, moes sy vrou uitken aan haar trouring en horlosie. “’n Vriend het half-nege gebel om te sê dat daar ’n brand by die fabriek is, en dat Patricia vermis word. Ek het vanaf Kenilworth eers huis toe gery, want ek het gehoop dat sy eerder daar sou wou gaan veiligheid soek het. “Toe sy nie daar was nie het ek baie bekommerd begin raak. Ek is na Monte Christo Ministries om na die naamlyste te kyk, terwyl familielede die hospitale gefynkam het.” Toe die lyke gevind is, is hy na die lykhuis. “Ek het die hele tyd gehoop dat sy nie daar is nie, maar toe ek haar ring en horlosie sien, het ek besef dat ek hiermee moet vrede maak.” Hulle het twee kinders, Robynn (7) en Edley (2). Patricia word Sondag om 10:00 vanuit die huis in Duccartstraat 6 begrawe, en daarna om 12:00 by die Kerk van die Nasareners in Weltevrede. Jeanette en Titus Pietersen is ten gronde nadat hul dogter, Jenelle (22), ook in die Paarl Print-brand gesterf het. Sy het drie jaar gelede as ’n bindery-assistent by Paarl Print begin werk. “Jenelle was vir ’n paar dae af en het Vrydag eers weer begin werk,” vertel haar pa. “Toe ek van die brand hoor, het ek dadelik haar selfoon gebel, maar daar was geen antwoord nie. Later is die doodstyding aan ons oorgedra.” Haar begrafnis vind Saterdag plaas om 09:00 by die huis te Lantanastraat 12 en daarna by die Ou Apostoliese Kerk. Nog ’n slagoffer, Hilton Blankenberg (33), het ook in die bindery gewerk. Hy was vir sewe jaar betrokke by die maatskappy. Hy word oorleef deur sy ouers Lydia en Ernest. Sy begrafnis vind Saterdag om 09:00 vanuit die huis te Conradstraat 34 plaas, en hierna om 10:00 by St Joseph’s AME-kerk. Eric Peters van Kaapstad sou dié noodlottige dag nie aan diens wees nie. Hy is egter gevra om skofte te ruil. Joseph Johnson (42) het vier maande gelede by Paarl Print begin werk as passer-en-draaier. Sy vrou Wilma het vir ’n dag en ’n half voor Paarl Print gewag voordat Joseph se liggaam gevind is. En boonop het hy Vrydag verjaar. “Toe ek 09:30 hoor van die brand, is ek dadelik na die toneel toe. Daar was geen teken van hom nie, ook nie tussen die oorledenes nie.” Wilma het deurgaans by Joseph se bakkie gewaak en gehoop. Saterdagmiddag is haar lewe verpletter toe haar man se liggaam in die puin gevind is. Hulle het vier kinders Jo-Anne (18), Logan (14), Jody-Lee (8) en Jamie-Lee (6). Die liggaam van ’n tweede vermiste, Marshall Diedericks (33), ’n skoonmaker, is ook eers Saterdagmiddag in die puin gevind. Pieter Saayman sou oor twee maande aftree. Hy is ná die brand gehospitaliseer met ernstige brandwonde, maar sy toestand was oorpronklik bevredigend. Sy toestand het egter vandeesweek verswak. Hy word oorleef deur sy vrou Hannah en twee seuns, Renier (32) en Pieter (28), Intussen verkeer Sharon Adonis in ’n kritieke toestand. Die gedenkdiens wat vir 30 April beplan was, is verskuif na 9 Mei. * Friday started as any other work day for staff of Paarl Print, but later that morning, 9 people were dead.
More
News
|