Tragedie
2009-04-23
Lise Beyers
’n GROTER tragedie het die Paarl nog nooit beleef nie. Dit is die algemene mening ná die verwoestende brand by Paarl Print verlede week wat Vrydag die lewens van nege mense geëis het en elf ernstig beseer gelaat het. Twee van die beseerdes is sedertdien ook oorlede. Paarl Print is een van die Paarl se groter werkgewers, met 280 werkers. Ten tyde van die brand was sowat 120 werkers aan diens. Paarl Print is deel van die Paarl Media-groep wat verbonde is aan Naspers en produseer hoofsaaklik glansdrukwerk en boeke. Die brand het verlede Vrydagoggend kort voor 08:00 uitgebreek in die kafeteria van die reuse drukaanleg in Oosterlandstraat, Daljosafat. Forensiese deskundiges het nou gerugte verwerp dat die brand ontstaan het weens ’n mikrogolfoond wat ontplof het, maar meen wel dat ’n ander elektriese toestel wat waarskynlik oornag in die kafeteria se kombuis aangeskakel was, ’n ontploffing veroorsaak het. Volgens getuies het die brand binne enkele minute die aanleg verswelg en talle werknemers is hierdeur onkant gevang. Die vlamme het vinnig deur die dak versprei en is aangehits deur die sterk ventilasiestelsel. Binne minute is die hele gebou gehul in ’n pikswart rookwolk. Verskeie werkers het erg beseer na buite gestrompel en is na verskeie hospitale geneem deur medewerkers. ’n Werknemer, Nicoleen Cloete, wat besig was om haar motor te parkeer toe rook uit die aanleg se dak begin borrel het, vertel: “Talle mense het begin uitstroom, onder andere Liezl Jacobs. Haar oog was erg beskadig en sy het oral brandwonde oor haar liggaam gehad.” Liezl is Woensdag oorlede in die Vincent Pallotti Hospitaal in Kaapstad. ’n Vrou wie se kantoor binne die fabriek is, het in trane op die toneel gesê dat sy in haar kantoor gesit het en rook begin ruik het. “Buite het ek ’n rumoer gehoor, en toe ek die deur oopmaak was dit soos nag, so donker was dit van die gitswart rook. “Ek het op my knieë neergeval en na veiligheid gekruip.” Kort na 08:00 is die personeel bymekaargeroep op ’n veilige deel van die perseel, en eers toe is die ergste besef: daar kon nie rekenskap gegee word van talle mense nie. By Monte Christo Ministries oorkant die straat, is daar inderhaas ’n nood-sentrum tot stand gebring waar die name van al die personeellede wat veilig was, aangebring is. Maar talle name was afwesig. Intussen het bekommerde familielede na die toneel gestroom nadat nuus van die brand vinnig deur die dorp versprei het. En alhoewel baie met verligting herenig is met hul geliefdes, het verskeie mense angstig gewag vir nuus, toe die name van hul geliefdes nie op die lys van oorlewendes verskyn het nie. Beraders van oral in die vallei is ook na Monte Christo Ministries om traumahulp te verleen aan die werknemers en hul families. Teen 13:00 het reddingswerkers op die liggame afgekom van sewe werkers: Hilton Blankenberg (33), Jenelle Pietersen (22), Patricia Stoffels (35), Marcelle Basson (39), Gerhard Mans (36), Mathys de Vries (51) en Eric Peters. Die liggame van Marshall Diedericks (33) en Joseph Johnson (42) is Saterdagmiddag ontdek met die hulp van forensiese snuffelhonde. Pieter Saayman (58) is Dinsdag oorlede in die N1 Stad-hospitaal. Stephan van der Walt, CEO van Paarl Media, het gesê dat die bestuur tans besig is om om te sien na die beseerdes en die families van die oorledenes. “Die menslike aspek is vir ons baie belangrik. Hierna sal ons eers die volle omvang van die verwoesting aan die maatskappy vas stel. “Ons het ’n uitstekende veiligheids rekord. Alle nood toerusting, asook prosedures was in plek. ’n Volle ondersoek sal geloods word na die oorsaak van die ongeluk.” Die skade van die brand kan geskat word op honderde miljoene rand. Die bestuur van Paarl Print hoop om binnekort die administratiewe gedeelte van die gebou in werking te kry, om sodoende hul kliënte en personeel te dien. Nog ’n fabriek van dié media groep in Milnerton het in Februarie ook erg deurgeloop weens ’n brand. Die skade hiervan word op R400 miljoen bereken. * The fire which destroyed Paarl Print on Friday, claiming nine lives, is regarded as the most tragic in the town’s long history.
More
News
|