Franschhoek troef Albions
2009-04-23
IN ’n wedstryd wat net nie aan die gang kon kom nie op Faurestraat-stadion, het die spanne van Franschhoek en Albions Saterdag in ’n taai stryd te staan gekom. Met oorgenoeg kanse moes die besoekers dié wedstryd reeds in die eerste helfte beklink het, maar te veel hanteerfoute het daartoe gelei dat Franschhoek moes tevrede wees met ’n 15-8 oorwinning. Albions se rustyd-voorsprong van 3-0 was verbygesteek toe Franschhoek se Galant Damons die eerste drie gedruk het. Les Boonzaaier het dié drie verdoel. Albions het kort hierna teruggeantwoord met ’n strafdoel, gevolg deur ’n drie toe die besoekers se verdediging aan die slaap gevang is. Boonzaaier het egter weer geslaag met ’n strafskop, waarna die wedstryd beklink was toe Ashwall Samuels agter die doellyn gaan kuier het. Saterdag se wedstryde was die tweede keer dat aldrie spanne van Franschhoek aan die wenkant was in die Premier Liga B-kompetisie gedurende die 2009 seisoen. Aldrie spanne van Franschhoek is dus sover onoorwonne gedurende hul eerste twee naweke se wegwedstryde. Franschhoek speel eerskomende naweek tuis teen Lagunya op die Groendal-sportterrein. * Albions speel Saterdag tuis teen Northerns van Elsiesrivier op Daljosafat se A-veld.
More
News
|