Gardens stel teleur
2009-04-23
YOUNG GARDENS het Saterdag ’n gulde geleentheid deur hul vingers laat glip om die verdedigende liga-kampioene, Windmeul United, op laasgenoemde se tuisveld te klop. Die eindtelling was 20-16 in die guns van Windmeul. Gardens het die eerste 20 minute van die wedstryd oorheers met hul voorspelers wat skitterend gespeel het en ver ente veld gewen het met hulle dryf- en maalbewegings. In dié tydperk het Gardens dit vermag om twee onverdoelde drieë aan te teken, met nóg twee geleenthede wat verlore gegaan het. Gardens se voorspelers het Windmeul se voorspelers in alle afdelings van die spel oorheers en hulle onder geweldige druk geplaas, maar kon nie daarin slaag om hul balbesit en gebiedsvoordeel te gebruik om verdere punte te behaal nie. Windmeul het met die verloop van die wedstryd ’n verdoelde drie aangeteken om die rustydtelling 10-7 te maak in Gardens se guns. In die tweede helfte het Windmeul meer balbesit geniet en het hulle gebruik gemaak van hul vinnige agterlyn om ver ente veld te wen. Windmeul het Gardens se agterlyn, wat op die dag baie teleurgestel het met hul spel, onder geweldige druk geplaas wat uiteindelik tot foute gelei het. Windmeul kon op hul opponente se foute kapitaliseer en het daarin geslaag om dit in punte te omskep. Windmeul het nóg ’n verdoelde drie en twee strafdoele aangeteken waarop Gardens geantwoord het met twee strafskoppe om die eindtelling 20-16 te maak in Windmeul se guns. Gardens se tweede span het 26-20 gewen. In die junior-wedstryde het Gardens se o.12’s 31-5 gewen, Gardens se o.14’s het 26-10 gewen en die o.16’s het 34-elk gelykop gespeel. Eerskomende Saterdag speel Gardens teen Riverstones op Gardenspark. Die juniors begin om 10:00.
More
News
|