Rose blom teen Ceres
2009-04-23
ROSES UNITED het verlede Saterdag vir Ceres Rugbyklub oortuigend geklop met 32-19 op Pelikaanpark. Die rustydtelling was 18-0 in die guns van die Rose. Roses het van meet af verwoed aangeval en het gou met 6-0 voorgeloop na twee suksesvolle strafskoppogings deur Stefanus Cedras. Laasgenoemde het die besoekers veral in die eerste helfte talle kere laat omdraai met sy reuse lynskoppe. Voorlangs het die Rose ook hul man gestaan in die skrums. Roses se voorry van Sandile Sijaji (vaskopstut), Harold Stewardt (loskopstut) en Lourens Oberholzer (haker) het veral puik vertoon teen hul meer ervare teenstanders. Stewardt was ongetwyfeld die speler van die wedstryd ná sy puik vertoning in die skrums en die vastelos. Die Rose se slotpaar Shane Jacobs en Goodman Moses het tesame met die voorry gedomineer voorlangs en die basis gelê vir dié spog-oorwinning. Agterlangs was die Rose se agterlyn ook goed op dreef met die heelagter Christopher Adams wat skitterende spel gelewer het. Adams se posisionele spel was uitstekend en hy het talle kere die besoekers laat bontstaan met sy vernietigende aanvalle. Die skrumskakel Percival Williams het ook uitgeblink vir die Rose, veral in die eerste helfte. Vir die Rose het Adams, Lindile Skota, Harold Stewardt en Alrich Erasmus drieë gedruk. Cedras was suksesvol met drie doelskoppe. Die Rose pak eerskomende naweek die span van Rawsonville te Pelikaanpark in Wellington. Toeskouers kan weer rugby uit die boonste rakke verwag aangesien dié twee spanne baie goed opweeg teenoor mekaar - en veral met die provinsiale spelers wat ook beskikbaar gaan wees vir die kragmeting.
More
News
|