Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jody Williams sing by markdag

Jody Williams sing by markdag
 
2009-04-23


SATERDAG hou die Rachel’s Angels-bemagtigingstrust van Media24 ’n feestelike markdag vir oud en jonk op die Wesbank-sportgronde in Malmesbury vanaf 08:30 tot 16:00.

Jody Williams, Idols-wenner sal by die geleentheid as die gaskunstenaar optree en die komediant Wayne McKay sal as seremoniemeester optree.

Die plaaslike skole wat deelneem aan die program is Bergrivier Hoërskool, New Orleans Sekondêr, Noorder-Paarl Sekondêr, Hoërskool Kylemore in Kylemore en Groendal Sekondêr in Franschhoek.

Dié bemagtingsprojek, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US), bied aan graad elfs in plaaslike skole die geleentheid om vir twee jaar met ’n studentementor van die US saam te werk.

Leerders besoek ook die US en woon klasse en sosiale geleenthede saam met hul mentors by – alles ter voorbereiding van die lewe ná graad 12.

Die hoogtepunt op die jaarlikse Rachel’s Angels-kalender is die Markdag. Met hierdie inisiatief kry leerders en mentors die geleentheid om hulle entrepreneursvaardighede te ontwikkel deur ’n sakeplan op te stel en prakties uitvoering daaraan te gee deur produkte en dienste aan ’n gemeenskap te verkoop.

Vanjaar tree Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury op as die gasheerskool vir die Markdag. Die stalletjies bied alles van ’n groentemark, gesigverf, en verskeie speletjies tot ’n teetuin, kosstalletjies en handgemaakte produkte.

Daar is ’n talentkompetisie en ’n Mnr en Mej Rachel’s Angels word gekroon, gevolg deur ’n rugbyderby vanaf 16:00.

Toegang is slegs R10 en alle fondse wat ingesamel word, sal aan liefdadigheidsorganisasies in en om Malmesbury geskenk word.

Daar is sewe leerders uit elk van die 16 Wes-Kaapse skole wat aan die program deelneem, en elke leerder het ’n US-mentor.

Die sowat 105 studente tree op as mentors vir leerders in graad 11 en 12 en help hulle sodoende om akademies beter te presteer en ander lewensvaardighede te ontwikkel.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za