Rhadsport-ryers hou Paarl se naam hoog
2009-04-23
DIE Rhadsport fietsryklubryers Wade Theunissen, Brent van Rooyen, Nathan Cornelissen, Brandon Christians en Garth Thomas het vanjaar tydens die die SA baankampioenskappe die Paarl se naam hoog gehou met uithalervertonings oor die Paasnaweek op die Bellville Velodrome. Wade Theunissen het die o.12 afdeling heeltemal oorheers toe hy in al vyf wedrenne vir sy teenstaanders weggejaag het om goue medaljes te verwerf in al sy wedrenne. Theunissen het ook die trofee ontvang vir die beste o.12 ryer tydens die kampioenskappe. In die o.14 afdeling het Brent van Rooyen gewys dat hy eersdaags iemand gaan wees om mee rekening te hou toe hy drie silwer medaljes en ’n brons verower het tydens die kampioenskappe. In die o.16 afdeling het Nathan Cornelissen se bestendige ryery aan hom sy nasionale o.16 kleure besorg. Cornelissen het in die puntewedren en later ook in die naelry hard met moeder aarde kennis gemaak. Hy het egter, ten spyte van die ongelukke, voortgejaag en ook ’n bronsmedalje in die 1500m wedren losgery. In die junior afdeling het Brandon Christians uitstekend gevaar deur koning te kraai in die uitvalwedren. Die wedren is gekenmerk deur ’n fout wat begaan is deur die beamptes wat byna daartoe bygedra het dat Christians sy goue medalje kwyt was. Die fout is egter deur die beamptes reggestel en Christians is as die gesamentlike kampioen gekroon met Brent Pheiffer van die Oostelike Provinsie. Christians het ook brons in die puntewedren verwerf. In die span-naelry het Christians met Brent Pheiffer van die OP en Bernard Esterhuizen van KZN saamgespan en oortuigend gewen. Hulle tyd sou aan hulle die tweede plek in die Elite wedren besorg het. Christians se vertonings tydends die kampioenskappe maak hom ’n sterk kandidaat om in die junior span opgeneem te word vir die Wêreldkampioenskappe later vanjaar in Moskou. Magdalene Nicholson, wat in Maart 2006 haar terugkeer tot die sport gemaak het na sy vir twee jaar opgehou het, het haar terugkeer gevier met drie silwer medaljes en ’n goue in die Keirin wedren. Sy jaag tans vir die MTN beroepspan en is deel van die Rhadsport oefengroep. Nicholson het in die 1500m en 7,5km bondel wedren die goue medaljes met millimeters misgeloop. Garth Thomas, ’n senior lid van die klub wat tans vir die CPI Chris Willemse beroepspan jaag, het vanjaar seker sy beste vertoning in ’n lang tyd gelewer toe hy die puntewedren op oortuigende wyse gewen het. In die Madison wedren het Thomas met sy spanmaat Chris Willemse saamgespan en stof in die ander deelnemers se oë gejaag. Hulle het die wedren op oortuigende wyse gewen. In die proses het hulle afgereken met die sterk kombinasie van Dean Edwards en Juan van Heerden. In die uitvalwedren is Christians byna van sy goue medalje beroof het. Die beamptes het egter hul fout besef en ook ’n goue medalje aan Thomas oorhandig. In die 10km bondelwedren het Thomas die silwer medalje verower nadat Jay Thompson hom in die naelrit geklop het. Die vertonings van Thomas en Nicholson maak hulle sterk kandidate om in die nasionale baanspan opgeneem te word vir die komende Wêreldbekerwedrenne asook die Statebond Spele in 2010.
More
News
|