Restourasiesplanne vir Cummings
2009-04-30
Lise Beyers
BYNA ’n jaar nadat die historiese Huis Cummings, koshuis van Hugenote Kollege, in puin gelê is deur ’n verwoestende brand, staan hierdie bouval steeds verlate. En sou die gebou eendag gerestoureer word, sal dit waarskynlik nie weer as ’n koshuis dien nie. In die nag van 13 Mei 2008 het ’n brand in dié koshuis ontstaan, vermoedelik weens ’n kortsluiting in ’n verwarmer in een van die studente se kamers. Die brand het baie vinnig versprei weens die hoeveelheid houtafwerkings binne die historiese sandsteen- en granietgebou. Slegs die klipgeraamte het bly staan. Talle antieke meubels is wel uit die brand gered, maar verskeie onvervangbare ware het in die slag gebly. Huis Cummings is een van die eerste geboue van Hugenote Kollege, en is in die laat 1800’s gebou. Dit was nog altyd beskou as ’n besonderse gebou en van historiese argitektoniese belang. Maar daar is wél lig aan die einde van die tonnel, want die kollege is druk besig met planne om die gebou tot sy vorige glorie te herstel. Dicey du Toit, erfenis-konsultant, is deur die Kollege-raad genader om deeglike navorsing te doen oor die restourasie van Huis Cummings. Haar verslag is aan argiteksfirma Malherbe Rust voorgelê wat die verskillende moontlikhede met die restourasie bekyk. Kostes Van die faktore wat in berekening gebring moes word, is die geweldige kapitale koste wat die volledige herstel van die gebou om weer as ’n koshuis te dien, sou meebring. En alhoewel hierdie kostes nie ten volle deur die kollege se versekeraar gedek word nie, waarborg die bestuur dat die eienaars van die gebou, die Wes- en Suid-Kaapse Sinode van die NG Kerk, oor ’n reserwefonds beskik vir die herstelwerk. Wanneer Huis Cummings wel gerestoureer is, sal die kerk kyk na ’n alternatiewe aanwending van die gebou wat reg sal laat geskied aan die kultuurhistoriese waarde van die oorspronklike gebou. Hoewel geen finale planne ingedien of besluite geneem is nie, word die moontlikheid van onder meer die inrigting van ’n kapel, kollegebiblioteek en konferensiesaal in die gebou oorweeg. Du Toit se mening is dat die gebruik van die gebou vir ’n ander doel as akkommodasie, die druk op die kosbare gebou sal verlig en dat die brandgevaar in die toekoms daardeur verminder sal word. Die studente wat ten tye van die brand in Huis Cummings gewoon het, is sedert Julie verlede jaar in ’n nuwe koshuis genaamd White House hervestig. Maar intussen bly dit ’n hartseer gesig vir gesoute Wellingtonners as hul verby die leë, verwoeste dop van hierdie pragtige gebou ry. * The restoration of the Huguenot College hostel, House Cummings, is slowly but surely drawing nearer.
More
News
|