Paarl Print sal hervestig word in die Paarl
2009-04-30
Lise Beyers
DIE maatskappy Paarl Print sal beslis weer in die Paarl hervestig word. Dit was vandeesweek die duidelike boodskap van die Paarl Media Groep, nadat hierdie drukkery in Daljosafat twee weke gelede deur ’n brand in puin gelê is. Elf mense het weens die brand hul lewens verloor en talle is beseer, waarvan ten minste een steeds om haar lewe veg. Die brand het vermoedelik begin toe ’n ontploffing in die fabriek se kantien plaasgevind het op Vrydag 17 April. Die fabriek is binne enkele sekondes deur vlamme verswelg. Die oorledenes is Gerard Mans (37), Marcelle Basson (39), Jenelle Pietersen (23), Thys de Vries (52), Eric Peters (59), Hilton Blankenberg (52), Marshall Diedericks (33), Joseph Johnson (42), Patricia Stoffels (35), Pieter Saayman (50) en Liezel Jacobs (34). Sharon Adonis (44) wat ten tyde van die ontploffing in die kantien was, veg tans om haar lewe in die N1 City Hospitaal. Nog vier werknemers, Andries Appollis (56), Danielle Albertyn (30), Douglas Roman (48) en Hilton Vaughan (36), is almal in ’n kritieke toestand in hospitale. Frans van Wyk (47), David Cupido (45) en Paul Keane (52) is ook in die hospitaal, maar hul toestand is bevredigend. Paarl Print het in 1905 tot stand gekom en is in 1938 gekoop deur Nico Retief. Hy, en later sy seuns, Lambert en Nicol, het die eens klein drukpers van krag tot krag laat gaan. In 2001 het Nasionale Drukpers met Paarl Print saamgesmelt. Hierdie fabriek is een van die belangrikste werkskeppers in die omgewing, met 280 werkers in hul voltydse diens, en nog kontrakteurs wie se dienste gebruik word. Werknemers van Paarl Print was erg bekommerd oor hul toekoms by die maatskappy, nadat hulle salarisse slegs tot einde Mei gewaarborg is na die brand. Maar die nuus van die hervestiging van dié drukkery, het lig aan die einde van die tonnel gewerp. Die bestuur van Paarl Media het gesê dat die hervestiging nie op die huidige terrein sal plaasvind nie, omdat al die geboue deur die Departement van Arbeid onbruikbaar verklaar is. En om hierdie terrein weer te herbou sal ten minste 18 maande neem. Alhoewel al die antwoorde nog nie op die tafel neergelê kan word nie, werk die maatskappy so gou moontlik daaraan om ’n oplossing te bewerkstellig. Die omvang van die skade aan Paarl Print kan steeds nie vasgestel word nie, maar na beraming sal dit in die hoog honderde miljoen rande beloop. Bo en behalwe die waarde van die gebou, toerusting en masjinerie wat verwoes is, is duisende rande se drukwerk wat gewag het op versending, tot as verbrand. Twee forensiese spanne is aangestel om die oorsaak van die brand te ondersoek. Tans word daar planne gemaak om personeel te verskuif na ander aanlegte van die Paarl Media Groep. Intussen stroom donasies in na die trustfonds wat geskep is vir die beseerdes en die families van die oorledenes. Tans staan die fonds op meer as R7 miljoen. Lambert en Nicol Retief het gesamentlik R2 miljoen aan die fonds geskenk. Donasies kan gemaak word in die rekening Paarl Printing (Pty) Ltd (rekening- nommer 072201401) by Standard Bank Paarl (takkode 0502510). Vir enige ander skenkings, kan 021-870-3800 geskakel word. ’n Gedenkdiens vir die Paarl Print-rampslagoffers word gehou op Saterdag 9 Mei om 10:00, by Nederburg Landgoed. * Employees of Paarl Print, which was ravaged by a fire, are still uncertain of their future.
More
News
|