Rowers val vas
2009-04-30
Lise Beyers
EEN man is dood en nog een gewond, nadat daar vir die tweede keer binne twee maande by ’n meubileerder in Lady Grey-straat, Paarl, ingebreek is. In Februarie is televisiestelle ter waarde van meer as R34 000 gesteel by Russells. Diewe het eenvoudig hul bakkie teenaan die winkel se stoorkamer geparkeer in Versterstraat, die ysterhek met ’n metaalsnyer oopgesny en die televisiestelle opgelaai. Hulle het die hasepad gekies voordat enig-iemand agtergekom het dat ’n inbraak plaasgevind het. Maandagmiddag het diewe weer gedink dat hulle die geleentheid gekry het om verniet inkopies te doen by dié meubileerder. ’n Bakkie is weereens teenaan die stoor getrek en die hek oopgesny. ’n Stoof ,wasmasjien en televisiestelle is opgelaai. Maar terwyl die vyf mans nog besig was, is die alarm geaktiveer en ’n ADT veiligsheidswag is na die toneel. Die bakkie het teen dié tyd reeds weggejaag, maar ooggetuies kon ’n beskrywing daarvan gee. Die bakkie is gou opgelet naby Simonsvlei, onderweg na Stellenbosch. Die polisie was kort op hul hakke, maar die mans agter op die bakkie het die polisievoertuig bestook met gereedskap. Verskeie waarskuwingskote is deur die polisie geskiet om die bakkie tot stilstand te probeer bring. Die voortvlugtiges het hulle egter nie hieraan gesteur nie. Die Stellenbosch polisie is gekontak en ’n padblokkade is opgerig naby Wiesenhof. Hier het die voortvlugtiges steeds nie tot stilstand gekom nie, en nog skote is op die bewegende voertuig geskiet en een van die bande is getref. Maar die bakkie het verby die verspering gejaag, steeds in die rigting van Stellenbosch. Die jaagtog het voortgegaan, dwarsdeur die strate van Stellenbosch, maar naby Spier is die voortvlugtiges se doppie geklink, toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het, en die bakkie het gerol. Een insittende is tydens die botsing dood, en nog een, Showall Veldsman, het skietwonde opgedoen. Drie mans, Whalied Jacobs, Ricardo Boesak en Rowan Adams, is in hegtenis geneem. Die naam van die oorledene is nog nie bekend nie. Daar word ondersoek ingestel of hierdie mans ook betrokke was by die vorige diefstal. * One man was killed and another injured after a botched burglary at a furnisher in Lady Grey Street.
More
News
|