OP Dinsdag 21 April om 09:30 het ek in Bosmanstraat, Paarl, ’n Samsung Omnia selfoon in ’n leersakkie (die foon is ’n paar duisend rand werd) opgetel.
Terselfdertyd het die eienaar van die foon se vrou na die foon gebel, op soek na haar man. Ek het geantwoord en vir haar gesê dat ek so pas sy foon opgetel het in Bosmanstraat.
Die tannie het my toe gevra om van Bosmanstraat te stap na Queenstraat waar hulle woon om die foon terug te besorg. Ek en ’n vriend Roberto Bassi het toe gestap.
Daar het die oom gewag om sy foon in ontvangs te neem en net dankie gesê. Hy het dit op sy motor se dak gesit en daarvan vergeet en dit het afgeval.
Ek het daar weggestap en gedink: ek was eerlik om die foon terug te besorg en boonop het hulle dit nie by my kom haal nie, maar ek moes te voet ’n paar kilometer stap om dit terug te neem. Was dit nie ’n beloning werd nie?