HIERMEE wil ek en my suster aan die hele Paarl en Wellington gemeenskap bekend maak watter wonderlike persoon Avril Davids is. Avril is werksaam te Paarl Mall by die Instandhoudingsafdeling.
Ek en Maryna het die Paarl Mall op Sondag 26 April besoek. Met ons aankoms so om 12:00 was daar geen toegewysde parkering vir moeders met babas beskikbaar nie.
Ons parkeer toe op die parkering vir gestremdes net langs ’n “baba”-parkeerplek.
My suster het ’n tweeling van drie maande oud en sy sukkel om die stootwaentjie (vir ’n tweeling) uit die voertuig te haal sonder om aangrensende voertuie te stamp.
Met ons terugkeer, was haar voertuig “ge-clamp”. Sy het na die Bestuur se kantore gegaan en mooi gaan verduidelik; maar tevergeefs, na twee ure se onderhandelings.
Sy was bereid om die boete te betaal, maar ongelukkig het sy net R140 kontant by haar gehad.
Paarl Mall se Waarnemende Bestuurder wou om de dood nie die R140 aanvaar met die belofte dat die restant die volgende dag betaal gaan word nie.
Avril Davids het my suster so jammer gekry, wat op daardie stadium weer ’n borsvoeding vir die twee moes behartig en in trane was, dat hy die R110 uit sy eie beursie gegee het sodat haar voertuig losgemaak kon word.
Avril, jy is ’n wonderlike mens - dit word opreg waardeer.