OP 10 Februarie het my seun verby Huguenotstasie gery met my motor, en salig onbewus van die nuwe spoedkamera op die Huguenotverbypad, die spoedperk oortree.
Daar was geen waarskuwingsbordjies dat die kamera aangebring is nie.
Toe het ek ’n boete van R200 gaan betaal op 2 Maart.
Kort daarna lees ek in die Paarl Post dat die kamera aanvanklik nie wettig was nie, en gaan toe na die verkeersafdeling en vra my geld terug.
Mnr Solly van den Heever by die verkeersentrum het saamgestem dat die boete onwettig was, en het onderneem om die geld in my bankrekening te laat terugbetaal.
Tot vandag toe het dit egter nie gebeur nie.
Toe ek later weer navraag gedoen het, is gesę die Paarl Post het “verkeerd berig”.
Hoe verander die Munisipaliteit dan so van wysie?
James Rooza
Die munisipale skakelbeampte, May Carolissen, reageer: Die kantoor van die Openbare Vervolging is van mening dat indien goedkeuring vir die mobiele eenheid gegee is, dieselfde toestemming ook vir die vaste ligging kan geld.
Mnr Van den Heever het reageer voordat die kwessie met die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging bygelę is.