Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Aardkuns maak Wellington soet

Aardkuns maak Wellington soet
 
2009-04-30

Johan Nel

DIE suiker het onlangs stroopsoet op ’n sypaadjie in ’n Wellingtonse woonbuurt gelê toe die Johannesburgse kunstenares, Hannelie Coetzee, een van haar bekende aardkunswerke daar kom skep het.

Haar suiker-kunswerk in Wellington was die laaste van ’n reeks aardkunswerke wat sy die afgelope tyd langs die pad tussen Johannesburg en Wellington geskep het.

Volgens Coetzee is dié kunswerke deel van ’n projek wat sy om twee redes aangepak het: Sy neem dit af vir ’n aardkuns-fotoboek waaraan sy tans werk en sy wil terselfdertyd Suid-Afrikaners se aandag op nuwe wetgewing vestig wat tans voorberei word om die skep van aardkuns tot ’n kriminele oortreding te verklaar.

“Die beoogde wetgewing wil aard- kuns oor dieselfde kam as grafitti skeer. In werklikheid is aardkuns iets totaal anders – dit is ’n tydelike kunswerk, dit word eko-vriendelik van verganklike materiaal uit die omgewing gemaak en dit kommunikeer ’n baie spesifieke boodskap vir ’n kort rukkie voordat dit weer deel van die omgewing word.”

Coetzee se kunswerke bestaan uit kort sinsnedes wat sy met materiaal uit die onmiddelllike omgewing skryf.

Vir die kunswerk wat sy met wit suiker op ’n sypaadjie in die Wellingtonse woonbuurt Weltevrede geskryf het, gebruik sy ’n sinnetjie uit Jacob Zuma se onlangse toespraak oor die Afrikaner: “Die Afrikaner is die enigste wit Suid-Afrikaanse tribe.”

In die Noordwes-provinsie waar sy langs ’n mielieland gestaan het terwyl ’n boer spoggerig met sy reuse-stroper verbydreun, het sy in groot letters langs die mielieland met landboukalk geskryf: “Kat se snor.”

In Sutherland se wêreld het ’n boer wyd oor die groot vlakte om hom uitgekyk en gesug: “Eendag is eendag, dan gaan ek hierdie boerdery maak werk...”

Coetzee het op ’n hoë krans op sy plaas met klein klippies wat maklik deur die wind weggewaai kan word, geskryf: “Eendag is eendag...”

Haar kunswerk op die sypaadjie in Wellington het volgens Coetzee interessante reaksies ontlok.

’n Huisvrou het gestaan en kyk terwyl sy Zuma se woorde met suiker op die sypaadjie skryf en gesug: “Om nou goeie suiker só te mors...”

Die eienaar van ’n nabygeleë kafee het, toe hy hoor waarvoor sy die suiker benodig, besluit om dit vir haar gratis te gee.

En ’n paar kinders kon, toe hulle die suikerwoorde op hul sypaadjie sien, nie die versoeking weerstaan om aan die letters te lek nie.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za