Hoekom geen optrede oor vuil strate?
2005-08-11
ALMAL weet dat die vuil Lady Greystraat te wyte is aan die sypaadjieverkopers.
Ek ry twee keer daagliks, vyf dae van die week Lady Greystraat van heelbo af regdeur tot in Huguenot.
Saans as die sypaadjiesmouse oppak, lyk die straat regtig morsig en dit stink, want toilette is mos ook ‘n probleem.
In die oggend lyk dit dieselfde, want niemand maak skoon nie.
Ek het al aan ‘n smous gevra hoekom hy nie die gemors optel as hy huis toe gaan nie. Hy sê toe die Munisipaliteit moet dit skoonmaak.
So een maal per week of selfs minder het daar al ‘n trekker met sleepwa gery en die dromme leeggemaak, maar die dromme word omgedop op die wa en alkante val papiere wat net so in die straat bly lê.
Die trekker ry en die wind waai dan sommer die ander papiere ook van die wa af die hele straat vol.
Is mense dan nie meer trots op die gehalte werk wat hulle lewer nie?
Mag ek voorstel dat wanneer Lady Greystraat se groot winkels miskien na die nuwe Mall verskuif en daar ‘n perseel oopgaan, dat die Munisipaliteit die gebou huur en al die smouse in een groot gebou laat besigheid doen.
Hulle kan vasstel hoeveel daar kan inpas en die huuronkoste deel.
Dan bly hulle vullis ook sommer uit die straat, en die winkels staan dan ook nie leeg nie.
Hierdie dorp is vir ons as belastingbetalers ‘n groot verleentheid met sy vuil en stukkende strate.
Ek dink baie inwoners vra seker wat doen die munisipaliteit met ons belastinggeld.
Hier waar ons in die middedorp woon, word daar beslis nie werk gedoen nie en ons betaal van die hoogste eiendomsbelasting in die hele Paarl.
CJ Nel
Die waarnemende munisipale bestuurder, Khaya Mrali, reageer: Lady Greystraat word daagliks en weekliks die meeste skoongemaak van alle strate in die Paarl. Twee werkers begin elke oggend om 08:00 beide kante (een op en een af) van die straat met straatkarretjies en teen die middag is hulle aan die einde en werk dan weer terug. Daar kan dus gesê word dat Lady Greystraat min of meer twee keer per dag gevee word as alles volgens plan verloop. In Lady Greystraat alleenlik is daar 65 sypadhouers wat (soos hierbo genoem) elke dag, ses dae per week, leeggemaak word, die meeste twee maal per dag. Straatvullis word in swartsakke geplaas. Elke middag vanaf 15:00 gaan ‘n drieton-vragmotor uit om alle sakke wat deur die straatveërs volgemaak is, op te tel. Om 16:30 gaan daar weer ‘n trekker met ‘n wa uit op die roete om alle sypad- en paalhouers leeg te maak asook om orige sakke en nog los papiere op te tel. Elke oggend om 08:00 gaan twee trekkers met spanne uit wat die strate rondom Lady Greystraat (dit is Nuwestraat, Waterkant-, Kasteel en Bredastraat) vee. Dit is egter frustrerend om die volgende oggend net weer te sien dat Lady Greystraat na al die pogings nie veel beter daar uitsien nie. Die rede hiervoor kan toegeskryf word aan die teenwoordigheid van straatsmouse wat nog so laat as 19:00 op die sypaadjies besigheid doen. Daar kan nie behoorlik skoongemaak word terwyl smouse nog op die sypaadjies teenwoordig is nie. Dit is ook ‘n feit dat smouse sowel as die algemene publiek nie hul samewerking gee wanneer dit by strooi van rommel kom nie. Dan is die huurmotors (Nuwestraat) natuurlik die ander groot faktor wanneer dit by die strooi van rommel kom.
More
News
|