Veelsydige Duan skitter
2009-04-30
Jaco van Wyk
DIE hoofdoel van SuperSport se Let’s Play inisiatief is om die jeug te motiveer om betrokke raak by die een of ander sportsoort. In Duan van Schalkwyk beskik Paarl Primêre Seunskool oor ’n graad-6 leerder wat egter geen motivering benodig nie, want op elfjarige ouderdom floreer Duan reeds in ’n aantal sportnommers. Dit is juis Duan se veelsydigheid en betrokkenheid by verskeie sportsoorte wat aan hom die titel van Paarl Post en SuperSport se Sportster van die Maand besorg het. Tydens die WP Stilwater Lewensreddingkampioenskappe in Bellville (17 Januarie) en Phesantekraaldam (18 Januarie) het Duan twee goue medaljes, een silwer en vier brons verower. Duan is ook tydens dié kampioenskappe aangewys as die o.12 Victor Ludorum, waarvoor hy ’n trofee ingepalm het. Na afloop van dié kampioenskappe was Duan gekies vir die o.12 WP Stilwater Lewensreddingspan en het hy verlede week (21 tot 26 April) aan die nasionale toernooi in Durban deelgeneem. Hier het hy ’n silwer medalje en vier brons medaljes verower. Vroeër vanjaar (7 Februarie) het Duan ook uitgeblink in die Tweekamp Interprovinsiale Byeenkoms wat op Oudtshoorn plaasgevind het, waarna hy, op 13 en 14 Februarie, ’n silwer medalje verower het in die o.12 Boland Vyfkamp Kampioenskappe (swem, skerm, skiet en hardloop) te Stellenbosch. Duan was ook ’n lid van die Boland Biathlé-span (hardloop-swem- hardloop) wat deelgeneem het aan die Biathlé Wêreldtoer op Struisbaai (5 April). Volgens Duan is dit lekker om aktief te wees, maar speel gesondheid ook ’n belangrike rol in sy liefde vir sport. “Dit is lekker om fiks te bly en ek sal baie eerder sport doen as om by die huis te sit. “Die kompetisie wat gepaard gaan met sport is ook lekker en ’n mens maak lekker vriende deur aan kompetisies deel te neem.” Duan geniet egter byna alle sportsoorte en beoefen ook rugby, swem, gholf en atletiek. Hoewel Duan eendag ’n entrepreneur wil wees, sal hy altyd by sport betrokke wees. “Sport sal altyd deel van my lewe wees.”
More
News
|