Groot planne vir Klapmuts se oorvol laerskool
2009-04-30
Sieb Sieberhagen
’n DROOM gaan eersdaags waar word. Na jare se vertoë kry Klapmuts Primêr uiteindelik ’n nuwe skoolgebou. Vanjaar is dié skool 32 jaar oud en met die tydelike klaskamers wat so vinnig agteruitgaan en leerlinggetalle wat al raak-raak aan 1300, is daar nie ’n beter tyd nie. Reeds is daar met die oprigting van nuwe tydelike klaskamers begin om leerlinge te akkommodeer terwyl die nuwe skoolgebou opgerig gaan word. Die ou, tydelike klaskamers sal gesloop word. Dié projek, wat ongeveer R30 miljoen sal kos, is ’n moderne tweeverdiepinggebou met 36 klaskamers, ’n rekenaarsentrum en biblioteek. Die biblioteek en die rekenaarsentrum gaan ook deur die gemeenskap benut kan word. Ronald Frans, die skoolhoof vir die afgelope 16 jaar, sê die groeiende getalle en die agteruitgang van die huidige klaskamers noodsaak die nuwe skoolgebou. “Vanjaar is die skool 32 jaar oud en dit is nou ’n droom wat waar geword het. Hier is geweldige groei en van die tydelike klaskamers hou baie beslis ’n risiko in om kinders in te huisves. “Dit is ’n opwindende tydperk. Hulle is nou besig om twintig tydelike klaskamers op te rig en daar sal in die derde kwartaal met die nuwe geboue begin word. Die verwagting is dat dit in 2011 voltooi sal word. “Ons het dit as prioriteit gestel dat daar ’n biblioteek en rekenaarsentrum as deel van die projek moet wees, aangesien daar nie so iets op Klapmuts is nie. Daar sal ook spesialis-klaskamers wees. “Ons gaan ook poog om die tydelike klaskamers te behou aangesien daar ’n geweldige behoefte vir graad R klasse is. “Ons het tans net een graad R-klas aangesien ons nie die kinders kan akkommodeer nie. Indien ons die tydelike klaskamers kan behou, kan ons ’n voorskoolse sentrum tot stand bring,” sê hy.
More
News
|