Bainskloof-planne onttroon
2009-04-30
DIE R180 miljoen ontwikkeling waar Bakkies se Padstal vorrheen aan die hange van Bainskloof was, staan tans doodstil, nadat die ontwikkelaars verlede jaar met mening grondverskuiwing daar aangepak het. Toe dié ontwikkeling bekend gemaak is, het dit hier krioel van aktiwiteit, en die bekende baken van Bakkies se Padstal is gesloop om plek te maak vir ’n hotel. Daar is ook aangekondig dat 128 luuks gemeubileerde eenhede, ’n onthaalsentrum, asook ’n opleidingsfasiliteit vir kelners en ander in die toerismebedryf daar gebou sou word. Die ontwikkelaars, Redles 330 (Edms) Bpk, wat deel vorm van King Finansiële Dienste, was vasbeslote dat hierdie ontwikkeling teen Oktober 2009 voltooi sal wees, betyds vir die 2010 Wêreldbeker. Maar die afgelope maande is daar geen teken van hierdie beloofde ontwikkeling nie, en al wat oorbly van die padstal met sy eens mooi tuine en water-verskynsels, is ’n hoop rommel. In 2004 is die oorspronklike ontwikkeling in hierdie gebied, Bainskloof Estate, gestop nadat Wellingtonners opgeruk het en hul beswaar hierteen luidkeels gebulder het. By verdere ondersoek is die projek finaal gestaak, op provinsiale vlak, deur die destydse provinsiale minister van beplanning en omgewingsake, Tasneem Essop, weens omgewings- en soneringsregte. Die kwessie van riolering was veral eerste op die lys van klagtes, met bure wat beswaar gemaak het oor die oprigting van die nodige rioolplaas op die terrein. Maar tydens ’n onderhoud verlede jaar met Reggie King van King Finansiële Dienste, het hy gesê dat die Drakenstein Munisipaliteit die projek goedgekeur het, nadat verdere ondersoeke uitgevoer is. Net so vinnig soos wat die stootskrapers aan die hange van Bainskloof begin werk het, net so vinnig het hulle gestop. Maar nie voordat ’n vlek op die landskap gelaat is nie. Onlangs is boere uit die direkte omgewing van die ontwikkeling bymekaar geroep deur lede van die Munisipaliteit en King Finance om die kwessie te bespreek, maar verskeie boere skop steeds hierteen vas. Dus is daar tans geen duidelikheid oor die toekoms van hierdie eens skilderagtige terrein buite Wellington nie. Intussen het verskeie beleggers hul kommer uitgespreek oor die impak van die ekonomiese insinking op King Finansiële Dienste, wat hoofsaaklik in eiendom belê. * A multi-million rand development in the foothills of Bainskloof King Financial Services has come to a halt.
More
News
|