Blues seëvier teen kampioenspan
2009-04-30
IN ’n wedstryd waar die spanning van begin tot einde hoog geloop het, het Laer Paarl Blues Saterdag daarin geslaag om die huidige Paarl Streekkampioen, Windmeul United, met 15-13 te verslaan. Die wedstryd was teen ’n geweldige pas gespeel, met beide spanne wat mekaar deurentyd met aanvalle agter- en voorlangs getoets het. Onder die nat speeltoestande het beide spanne egter teleurgestel met onnodige hanteerfoute. Die wedstryd was ’n gelykop affêre en was tot in die laaste minute op ’n mespunt gebalanseer. ’n Drie in die sewentigste minuut van die wedstryd het toegelaat dat Windmeul vir die eerste keer in die wedstryd, met 13-12, kon voorloop. ’n Skepskop in die laaste minuut van die wedstryd deur Blues se skrumskakel, het Windmeul, die huidige streekkampioene, se doppie geklink. Blues se tweede span het die besoekers met 15-3 verslaan terwyl die derdes met 8-15 vasgeval het. Eerskomende Saterdag speel Blues teen Vineyards op Daljosafat. * ONDANKS ’n naelskraapse oorwinning van 9-3, Saterdag oor Young Gardens, sal Riverstones Rugbyklub voel dat te veel hanteerfoute en verkeerde opsies hulle onder onnodige druk geplaas het.Riverstones se Donovan Hougaard het met drie strafskoppe geslaag, teenoor die twee strafskoppe van Gardens. Riverstones se tweede span het 7-12 verloor en Riverstones se derdes het 23-19 gewen. Eerskomende Saterdag speel Riverstones tuis teen Vineyards. * DIE eerste rugbyspan van Violets het Saterdag hul wedstryd teen Allandale met 16-15 verloor.Swak oordeel was te bespeur aan albei kante, met die manne van Violets wat uiteindelik net nie die knoop kon deurhak nie. Die rustydtelling was 8-3 in Violets se guns. Violets se drieë is gedruk deur A Amerika en T Uren. T Prins het ’n strafdoel behaal en R Anderson het ’n doelskop behaal. Violets se tweede span het 5-0 gewen en die derde span het 17-5 gewen. Violets speel eerskomende Saterdag teen Gardens op Daljosafat se C-veld.
More
News
|