Gim klop magtige Affies
2009-04-30
Jaco van Wyk
PUIK vertonings deur die drie deelnemende Paarlse skole - Gim, HJS en Landbouskool - was die kenmerk van die Wildeklawer Super Skolerugbytoernooi wat oor die langnaweek op Hoërskool Gimnasium se sportvelde aangebied was. Dié toernooi, wat Saterdag en Maandag vir die eerste keer aangebied was, was ’n ware vertoonvenster vir toeskouers wat dié geleentheid bygewoon het en het uiteindelik ’n duidelike boodskap uitgestuur dat skolerugby in Suid-Afrika steeds baie gesond is. Hoewel die gasheerskool tydens Saterdag se hoofwedstryd op verrassende wyse kleigetrap het teen Hoërskool Monument van Krugersdorp, in gure weersomstandighede, het hulle Maandag daarvoor vergoed deur die rugbyreus Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria in ’n taai wedstryd te troef. Gim, wat jaar na jaar opponerende spanne kis hardloop met hul aanvallende spel, het met Saterdag se reën gesukkel op die swaar veld en die onderspit gedelf met 5-6 teen Monument. Met die son wat Maandag weer besluit het om gesig te wys, kon die Gimmies hul ware kleure ten toon stel toe hulle teen alle verwagtinge met 22-16 koning gekraai het teen Affies. Gim se aartsvyand, Hoër Jongenskool, het op sy beurt ’n uitstekende toernooi beleef en sodoende ’n sterk boodskap aan sy Paarlse opponente uitgestuur. Boishaai het Saterdag so ’n puik vertoning gelewer teen Hoërskool Waterkloof, dat hulle na afloop van die wedstryd aangewys is as die span wat die aantreklikste rugby op die dag gespeel het. HJS het ’n 21-11 oorwinning oor Waterkloof behaal, met laasgenoemde wat voor die afskop van die toernooi beskou was as een van die toernooi-gunstelinge. Boishaai het hul vorm ook oorgedra na die Maandag. Met hul losskakel Gavin Hauptfleisch aan die spits, het HJS ’n puik 30-0 oorwinning oor Hoërskool Dr EG Jansen van Boksburg behaal. Hauptfleisch was een van die toernooi se groot uitblinkers in beide oorwinnings wat HJS behaal het, en is albei kere aangewys as die speler van die wedstryd. Ondanks ’n goeie poging kon Hoër Landbouskool Boland ongelukkig nie Saterdag die oorhand kry oor Affies nie. Die Paarliete het vasgeval met 18-27. Landbouskool het egter Maandag teruggeveg met ’n goeie 24-17 oorwinning oor Hoërskool Diamantveld. Die volledige uitslae van die toernooi was soos volg: Saterdag - Landbouskool Jacobsdal speel gelykop teen Landbouskool Oakdale (5-5); Hoërskool Diamantveld klop Hoërskool Framesby (10-5); Hoërskool Outeniqua klop Hoër Tegniese Skool Middelburg (25-3); Affies klop Boland Landbou (27-18); HJS klop Waterkloof (21-11); Paul Roos klop EG Jansen (38-31); Monument klop Paarl Gim (6-5). Maandag - Paul Roos klop Waterkloof (16-13); HJS klop EG Jansen (30-0); Boland Landbouskool klop Diamantveld (24-17); Hoërskool Framesby klop Hoër Tegniese Skool Middelburg (41-0); Paarl Gim klop Affies (22-16); Monument klop Outeniqua (27-20); Landbouskool Jacobsdal klop Hoërskool Schoonspruit (43-13).
More
News
|