Wellington Wag beoog
2005-03-17
’n SPESIALE buurtwagstelsel, die Wellington Wag, word beoog weens die huidige vlaag geweld op die dorp.
n Selfoondiens waar inwoners klagtes en bekommernisse oor die polisie se werkswyse kan aanmeld, is van die aksies wat reeds geneem is deur die Wellington Veiligheidsforum wat na afloop van ‘n gemeenskapsvergadering oor veiligheid op Wellington in Februarie verkies is.
Die vergadering, wat gehou is kort na die moord op dr Lisbe Smuts-Smith in Burgstraat, is veral bygewoon deur inwoners van Uitsig, Bergendal en Ranzedale. Gebrekkige kommunikasie met die polisie en die opvolg van klagtes is ten tyde van die vergadering gelys as kwelpunte.
‘n Komitee, waarop inwoners van di woonbuurte dien, is gekies om ‘n plan van aksie teen ‘n aanvoelbare styging in misdaad te loods. Onder die agt persone wat op die komitee van die Wellington Veiligheidsforum dien, is onder meer bekende besigheidslui van die dorp. Hulle sal kwelpunte oor misdaad in dié woonbuurte aanspreek in samewerking met die SAPD.
Een van hul eerste take was ‘n ondersoek na die verskillende opsies wat beskikbaar is vir die inwerkingstelling van ‘n buurtwagstelsel in hierdie woonbuurte.
Die komitee het Dinsdagaand besluit om ‘n soortgelyke stelsel as wat op Stellenbosch gebruik word, aan inwoners voor te stel. Die Wellington Wag sal as ‘n Artikel 21-maatskappy bedryf word, met die sekuriteitsfirma ADT wat as subkontrakteur aangestel word om patrolliedienste te verskaf.
Volgens Forum voorsitter Deon van Rooyen word die Stellenbosch-model reeds vyf jaar lank lewensvatbaar bedryf, en is hulle positief dat dit ook vir Wellington kan werk.
In ‘n opvolgvergadering volgende week sal die komitee die dorp in sones indeel vir patrolliedoeleindes.
‘n Direkteur vir elke sone sal ook gekies word om op die bestuur van die nie-winsgewende maatskappy te dien, in belang van inwoners van ‘n spesifieke woonbuurt.
“Die maatskappy moet deur die gemeenskap bedryf word,” het Van Rooyen beklemtoon.
Inwoners wat wil gebruik maak van die buurtwagdiens, kan die Forum kontak by 082-964-3136. Hierdie nommer is ook beskikbaar sodat inwoners makliker met die Forum kan kommunikeer oor probleme rondom die hantering van misdaad. “Die doel van die nommer is om klagtes wat mense voel nie na behore opgelos is deur SAPD nie, te kan opvolg,” verduidelik Van Rooyen. “Mense kan dit ook gebruik word om voorstelle aan ons te maak.”
Hy het dit beklemtoon dat hierdie nie ‘n noodnommer is nie. Sulke oproepe word deur die SAPD, en hopelik weldra ‘n nuwe buurtwagstelsel, hanteer.
By die vergadering in Februarie is die kommer uitgespreek dat inwoners nie weet wat met die misdaadsituasie in die dorp aangaan nie.
Stasiekommissaris Nelson Govender het toe die gemeenskap genooi om betrokke te raak by die bestaande Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat elke laaste Donderdag van die maand vergader en die Polisie se kommunikasiemiddel met die publiek is.
Volgens Van Rooyen het die Wellington Veiligheidsforum reeds geskakel met die plaaslike SAPD oor die GPF. Hulle sal inwoners verteenwoordig en verder kan inlig, terwyl hulle ook algemene skakeling met die SAPD wil verbeter.
Deur die GPF by te woon sal hulle meer bewus kan wees oor wat die misdaadknelpunte in die dorp is.
Die Forum mik egter nie net daarop om kritiek uit te spreek oor die werksaamhede van die polisie nie. Een van die portefeuljes op die komitee is om juis te kyk hoe gehelp kan word om die moraal van polisiemaglede te versterk, onder meer met sosiale betrokkenheid. Skakeling met die Plaaswagstelsel word ook voorsien.
Skrywes oor plaaslike misdaadkwessies is reeds gerig aan die Premier van die Wes-Kaap, Ebrahim Rasool.
Hy word onder meer gevra om kommentaar te lewer op die hantering en kriteria van paroolaansoeke, en hoe dit moontlik was dat dr Smuts-Smith se beweerde moordenaar ten spyte van 25 vorige oortredings steeds op parool vrygelaat kon word. Die Forum wil ook ‘n fokus plaas op die veiligheidsas pekte van inwoners. Een van die opsies om inwoners ingelig te hou, is om ‘n weeklikse veiligheidswenk deur te gee.
Die selfoonnommer is 082-964-3136. Die kontakpersoon is Attie Barnard.
More
News
|