WEEREENS moet ek die pen uithaal en my misnoeë uitspreek ten opsigte van die toestand waarin ons dorp hom bevind ná die afhandeling van die verkiesing. Die stemmery het goed afgeloop en demokrasie het feesgevier, maar dan vra jy jouself die vraag af, watter rol speel opvoeding in ons lewens?
In die woonbuurt Mountain View in Paarl-Oos het ’n tent gestaan waar gestem kon word. Na afloop van die stemmery is die tent verwyder, maar die plek is in ’n baie onnet toestand gelaat. Steeds lê papiere en plakkate die wêreld vol.
Hier gaan nou weereens geskerm word dat die plek nog opgeruim gaan word, maar dit is reeds vier dae ná die eleksie!
Graag wil ek weet of die persone wat die tent (stemlokaal) opgerig het dit in so ’n haglike toestand gevind het? Ons is gou om stemme te verwerf, maar wend ook ’n poging aan om agterna al die papiere en vullis te verwyder.
In dieselfde asem kan ek noem dat die toestand by Shoprite in Paarl-Oos, veral op ’n Sondagmiddag. nie mooi is om te aanskou nie.
Hier blameer ek die stalletjies waar daar besigheid bedryf word. Die taxiparkeerplek in die middedorp is ook onooglik om te aanskou aangesien papiere orals rondlê.
Ek gun iedereen ’n plekkie in die son om ’n bestaan te maak, maar ons kan nie net verwag die Munisipaliteit moet ons gemors skoonmaak nie - doen dit self!Mario Matthews