DIT was oudpresident Bill Clinton van Amerika wat gesê het ons moet ons jonger mense help om goed te doen sodat hulle die beloning van vrygewigheid kan ervaar.
In ’n wêreld waar eiebelang deesdae vooropgestel word ten koste van ander, was dit vir my besonder aangenaam om te ervaar dat daar wel van ons jonger mense is wat soos Aristoteles glo dat eer en beloning diegene toeval wat van hul goeie eienskappe werk maak.
My selfoon het ek sowat ’n week terug verloor en Lomar du Plessis het nie tyd of moeite ontsien om dit vir my terug te besorg nie.
Soveel makliker en in voeling met die tye sou dit nie wees om die foon te gehou het, te verkoop het of bloot daarvan ontslae te raak. Jy het vir hierdie oom ’n baie groot guns bewys, nie net omdat jy my “duur” telefoon terugbesorg het nie, maar veral omdat jy vir my bewys het dat daar wel nog jong mense is wat die vermoë het om die regte ding te doen, selfs al verg dit baie opoffering. Daarvoor is ek jou innig dankbaar. Jy weet waar my huis is. Jou beloning is in die posbus. Jy verdien dit!
Onthou net dat die werklike beloning van ’n goeie daad, die daad op sigself is.