EK verwys na die inbraak by Russells in die Paarl.
Ironies genoeg - na al die wilde jaagtog waarin klippe, bakstene stukke ysters, gesteelde eiendom, koevoet, skroewedraaier, groot bouhamer (1m lank), tang, en ’n twee meter lange houtpaal na die polisievoertuig gegooi is, het die bestuur van Paarl polisiekantoor besluit die lewens van die lede betrokke was nie juis in gevaar nie, want hulle was nie beseer nie.
Die bestuur van Paarl polisiekantoor het die klagte van poging tot moord (wat die betrokke polisielede geopen het) verander na opsetlike saakbeskadiging.
Die rede: die lede was nie raak gegooi nie, net die bakkie is getref en beskadig.
’n Mens wonder maar net. Het die “score board” (statistiekbord wat misdaad van die vorige jaar se maand vergelyk) weer gewen?
Duidelik gaan dit nie meer oor die lewens van die polisielede betrokke, en of hulle in gevaar was of nie, maar eerder of hulle raak gegooi was - so hulle moet eers getref gewees het?
’n Mens wonder net hoekom ná ’n sekere skietvoorval in die Kaap, Paarl polisielede elke uur vir 15 minute met blou ligte by ’n hoë offisier se huis moes gaan verbyry het in Noorder-Paarl? Was sy lewe nou meer in gevaar nadat die voorval in die Kaap plaasgevind het?
Mooi so, besluitnemers van Paarl polisie – bly julle steun julle lede so professioneel.Iets om oor te dink!