Geen keer aan Paarl Rugbyklub
2009-05-07
PAARL RUGBYKLUB se eerste span het verlede Woensdag ’n baie goeie oorwinning van 49-0 behaal oor Van der Stel op Stellenbosch. Paarl se skrumskakel, Eugene Francis, was sy span se groot uitblinker en het drie drieë gedruk na skitterbreekslae vanaf goeie balbesit wat die voorspelers gewen het. Die klub se ander drieë is gedruk deur Hennie Zandberg (flank 2), Marco Martin (vleuel), Steve Nortier (vleuel), Eugene Kinghorn (senter) en Colyn Truter (plaasvervanger heelagter). Die losskakel Jacques Hendricks kon dié slag slegs met twee van sy span se doelskoppe slaag. Paarl het in die eerste helfte van die wedstryd, in winderige en reënerige toestande, gesukkel om hul ritme te vind, maar het in die tweede helfte baie goeie rugby gespeel. Paarl se tweede span het self ’n wegholoorwinning van 56-0 behaal oor hul teenstanders. Hierdie span wemel van spelers wat geen eerste span in die steek sal laat nie. Die agsteman, Andrie Greeff, was baie prominent en het met ’n aantal goeie dryfbewegings vorendag gekom. Die skrumskakel, Ryno van Wyk, het ook goed vertoon. Paarl se derde span het met 37-5 geseëvier. Paarl se belowende o.20 span het Saterdag op ’n rugbydag by Hamiltons ’n skitterende oorwinning van 53-0 oor Villagers B behaal. Drieë is gedruk deur Martin Barnard (vleuel 2), Louis Schlechter (losskakel 2), Pieter-Andries Basson (heelagter 2), Martin Verhoeven (senter), Tobias Oosthuizen (haker) en Sean Smith (plaasvervanger-flank). Schlechter (kaptein) het ’n verdere vier doelskoppe vir sy span bygedra. Paarl se senior spanne speel Vrydagaand vanaf 18:30 op Faurestraat-stadion teen Strand United. Die o.20 span speel Saterdag op die Boy Louw-sportgronde teen UK B2 om 14:45. Paarl se vierde span sal in ’n vriendskaplike voorwedstryd teen Wesbank van Malmesbury speel.
More
News
|