Die De Wet-faktor
2009-05-07
Jaco van Wyk
VERSKEIE faktore weerhou soms sekere deelnemers daarvan om na ander provinsies te reis vir kleiduifskiet-kompetisies, aangesien dit nie altyd maklik is om aan te pas onder vreemde toestande nie - soos byvoorbeeld die reën in Durban, die wind in die Kaap en die hitte in die Transvaal. Die Kaap het egter ’n nuwe faktor wat vrees by sommige deelnemers inboesem, naamlik die “De Wet-faktor.” Só spog lede van die Valley Gun Club met Tobie de Wet (20) en sy familielede, wat onlangs klaargespeel het met die ander deelnemers by die SA Ope kleiduifkompetisie. Dit maak deel uit van die African Grand Kleiduifkampioenskappe. Tobie, sy broer Wouter, sy oom Jaco de Wet en sy kleinneef Erik de Wet het tydens die SA Ope die eerste vier plekke beklee tydens die kompetisie se sogenaamde High Gun-afdeling, die afdeling waartydens die vier beste skutte algeheel, uit ongeveer 70 deelnemers, aangewys word. Tobie, ’n plaasklong van Robertson, studeer tans Landboubestuur aan CPUT in Wellington. As ’n lid van Valley Gun Klub (geleë in Agter-Paarl), het Tobie die SA Ope gewen wat plaasgevind het vanaf 22 tot 26 April op sy tuisbaan (die toonaangewende skietbaan in Suid-Afrika). Tydens dié Ope het Tobie die ATA (Amateur Trap Association) gewen om die nasionale kampioen in kleiduifskiet te word. ATA behels basies dat ’n skut een skoot per klei het, met 200 kleiduiwe wat gevuur word. Tydens die ATA het Tobie die huidige rekord geëwenaar met 199 uit 200 suksesvolle skote. Die WP-span, waarvan Tobie en sy oom Jaco ook lede is, het tydens die Ope ook die provinsiale kompetisie gewen. So waar het Tobie se liefde vir kleiduifskiet begin? “Toe ek 12 jaar oud was, was oom Jaco en my broer Wouter (30) reeds deel van die Protea kleiduifspan. Hulle het my leer skiet op die plaas in Robertson, waar hulle ’n skietbaan gehad het,” sę Tobie. “Verder het ek altyd saam met my broer gegaan as hy gaan oefen het, waar ek altyd kans gekry het om te skiet. Dit is waar my oom-hulle besef het ek het talent.” Om ’n groot geweer vas te hou en te skiet, is wat Tobie die meeste van dié sport geniet. “Dit raak egter ook baie verslawend om kompetisies te probeer wen,” sę Tobie. “Let wel, probeer wen,” voeg hy vinnig by. Om die węreldkampioen te word, is Tobie se volgende doelwit. “Dit sal lekker wees om eendag aan die Olimpiese Spele te kan deelneem, maar vir eers konsentreer ek net op die Węreldkampioenskappe wat in Augustus volgende jaar by Valley Gun Club gaan plaasvind. Ná die Węreldkampioenskappe sal ek begin voorberei vir die Spele.” Tobie se droom om węreldkampioen te word, is nie so vergesog nie, aangesien hy tydens verlede jaar se Węreldkampioenskappe in Ierland vierde geëindig het in die o.21-afdeling. “Ek weet egter dat ek baie beter kan vaar. Soos Gary Player altyd sę: “The more I practise, the luckier I get.”
More
News
|