EEK as inwoner van die Paarl is ’n groot voorstaander van werkverskaffing vir die plaaslike diensleweraars, maar het die afgelope vier maande weereens gesien hoekom dit maar beter is om liewers herstellers en diensverskaffers uit die Kaap uit te kry om die werk te doen.
Ek sukkel al vanaf Januarie om iemand te kry om herstelwerk aan my swembad te doen.
Dit is glad nie ’n baie groot werk nie en dus was ek onder die indruk dat dit vinnig en maklik gaan wees om een van die verskeie swembaddienste wat in die Paarl Post en Home Ads adverteer, te kry om die werk te doen.
Ek het sedert Januarie vier verskillende persone gekontak om die werk te doen.
Die eerste een het belowe om te kom kyk en ’n kwotasie te gee - ek wag nog steeds op hom.
Die tweede persoon het net bevestig dat hy nie belang stel in hierdie tipe werk nie.
Die derde en vierde persone het albei gesę dat hulle pryse by hulle verskaffers moet kry en dan kwotasies sal lewer.
Dit was onderskeidilik een en twee maande gelede.
Ek sou dink met die huidige ekonomiese toestand dat veral mense met hulle eie besighede sou klem lę op diens en daardeur hulle besighede groei, maar dit is duidelik dat ek vermoedelik onder die verkeerde indruk was.
Dus gaan ek nou maar ’n diensverskaffer van buite die Paarl kry om die werk te doen.
Louis Vlok