Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boer sukkel steeds na aanranding

Boer sukkel steeds na aanranding
 
2009-05-07

Sieb Sieberhagen

TWEE jaar na die beweerde aanranding van ’n Paarlse boer en sy vrou deur ’n voormalige stadsraadslid, sukkel die boer steeds met konsentrasieprobleme en kan hy nie ’n normale lewe lei nie.

Dan Kotze, voormalige ANC raadslid van die Drakenstein munisipaliteit en afgesette voorsitter van die ANC Boland-streek, word daarvan aangekla dat hy Trevor en Joan Ernstzen van die plaas Le Fut aangerand het tydens ’n onenigheid oor die uitsetting van ’n plaaswerker.

Trevor Ernstzen het verlede week getuig hy kon vir lank nie motor bestuur nie. Ernstzen en sy vrou is leefstylboere en hy is ’n bestuurder by ’n groot versekeringsmaatskappy.

Die aanranding het plaasgevind nadat Ernstzen twee jaar gelede ’n uitsettingsbevel verkry het om ’n werker van sy plaas te verwyder. Hy sê dat die werker demoraliserend was en sy vrou wat bedags alleen op die plaas was, bedreig gevoel het deur die werker se teenwoordigheid. Die werker het in ’n stadium selfs aangedui dat hy sou trek, maar het nooit so ver gekom om dit te doen nie.

Hy was bang dat die werker weer sou terugtrek nadat die balju sy besittings verwyder het, en het toe die opdrag gegee dat die huis gesloop moes word.

Die bestuurder van die laaigraaf, Johannes van Zyl wat toe werksaam was by Mostert Transport, het getuig dat mense by sy aankoms gedreig het om die laaigraaf se vensters uit te gooi as hy die huis sou platstoot.

“Ek het in ’n stadium gesien dat Ernst­zen en Kotze in ’n argument betrokke geraak het en dat Kotze in ’n stadium bo-op Ernstzen gesit het. In ’n stadium het ek ook gesien dat Ernstzen doodstil gelê het.”

Hy het ook gesien dat Kotze vir Ernstzen skop terwyl hy op die grond gelê het. Toe Joan Ernstzen die motorsleutels van Kotze se motor wou uittrek, het Kotze haar geklap.

Trevor Ernstzen het getuig dat Kotze, sonder om hom voor te stel en net te sê dat hy van die ANC is, op Ernstzen se plaas opgedaag het en hom beveel het om te stop waarmee hy besig was.

“Ek het gesê dat ek ’n hofbevel het, en dat Kotze van my plaas af moet padgee. Hy wou nie na rede luister nie en het op ons gevloek en geskreeu.

“Ek onthou dat ek in die gesig geslaan is en op die grond beland het. In die hele voorval het ek twee keer my bewussyn verloor.”

Ernstzen het getuig dat hy nie ’n gewelddadige persoon van geaardheid is nie.

Staatsaanklaer Pauline Coollen het aan Ernstzen gevra of hy die groep mense wat daar saamgedrom het, geken het. Hy het geantwoord dat hy net een persoon in die groep van 30 tot 50 geken het.

In kruisondervraging kon hy nie aan die hof sê presies wat die mense in die groep gesê het nie, maar hulle het wel gevloek, geraas en rassistiese opmekings gemaak.

“Kotze het eerste geslaan. Toe ek weer sien, was ek op die grond. Ek was vir ’n minuut of twee bewusteloos. Toe ek weer bykom, het ek gesien dat my vrou ’n entjie daarvandaan deur Kotze aangerand word.

“Ek is toe vir ’n tweede keer aangerand. Toe ek probeer regop kom, het dit gevoel asof ’n hoop stene my tref,” sê Ernstzen.

Hy kon nie met sekerheid sê wie hom die tweede keer aangerand het nie. Hy het ook nie gesien dat Kotze hom skop nie.

Duncan Korabie, Kotze se regsverteenwoordiger, het dit aan Ernstzen gestel dat hy glad nie die “little boy scout” is wat hy wil voorgee nie.

Die saak word aangehoor deur landdros André Fourie.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za