Vrugtebedryf gaan voort
2009-05-07
TWEE weke ná ’n verwoestende brand wat die Novo koelkamers verpletter het in Daljosafat, gaan hierdie maatskappy voort om vrugteboere te bedien. ’n Brand het hiér ontstaan op Maandag 20 April en ’n reuse-pakkamer grotendeels in puin gelaat. Novo is verantwoordelik vir die hantering en berging van duisende ton vrugte per jaar. Willem Bestbier, operasionele direkteur van Colors Fruit, het gesê dat die maatskappy direk ná die brand so spoedig moontlik aan die werk gespring het om hul besigheid voort te sit. “Vrugteskade in konteks van totale oes is heeltemal hanteerbaar aangesien die volume vrugte wat tydens die brand op die perseel was, relatief klein was, in vergelyking met die totale volume oor ’n seisoen wat deur Novo hanteer word. Bereken oor die totale Wes-Kaapse appel- en pere-oes, is die volume selfs minder beduidend. “Enkele vrugteplase word geraak en hulle is gelukkig oor wye areas versprei, wat Villiersdorp, Ceres en Piketberg insluit. “Die grootste korttermyn-impak van die brand was om in die kortste moontlike tyd die enorme logistieke uitdagings die hoof te bied, soos om vrugte te hervestig na omliggende pakhuise, en om die kontinuïteit in die mark van week tot week te handhaaf.” Alhoewel die aanleg heeltemal vernietig is, het een koelkamer met reeds verpakte vrugte behoue gebly en bygedra tot die diens van die mark. “Te danke aan rolspelers soos CFG, Gouda Fruit Packers, Piketco, Kromco, Tulpak, Betco en SAFT Cold Harvest het ons reeds grootliks daarin geslaag om ontwrigting van produsente en kliënte te voorkom.” Novo en Colors is tans in konsultasie met alle werknemers oor hul herontplooiing. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en die saak word steeds ondersoek.
More
News
|