Nuwe voorkoms herroep die oudae
2005-08-11
’n FASADE soos dié wat in 1856 voor die huidige motorhandelaar Thorp GM in die Paarlse Hoofstraat opgerig is vir die destydse Paarl Wine & Brandy Co, word eersdaags herbou.
Die motorhawe het ’n boukontrak gesluit met Longworth & Faul Boukontrakteurs vir die oprigting van die fasade voor die bestaande geboue.
Malherbe Rust Argitekte het verlede jaar voorstelle begin voorberei aan die hand van die 1956 De Witt fasade van die brandewynmaatskappy.
Swak wynpryse het in die 1830’s wynboere genoop om meer brandewyn te stook vir eie gebruik, om aan die publiek te verkoop, en om plaaslike wyne mee te fortifiseer.
Die De Villiers-familie het in 1856 die Paarl Wine & Brandy Co gestig, met sy hoofgebou in die Hoofstraat.
Die De Villiers-gesin het gewoon in wat vandag die Zomerlust gastehuis is, oor die straat van hul stokery. Brandewyn vir die huishouding is met ’n pyp onder die straat deur gelei.
Die produk was bekend as Paarl Rock, wat dekades een van die gesogste brandewyne in Suid-Afrika was, ook by delwers op die diamant- en goudvelde.
Paarl Wine & Brandy Co het later uit die Hoofstraat na Daljosafat verskuif en die pragtige Victoriaanse gebou met die klassieke elemente is gesloop om plek te maak vir ’n motorvertoonlokaal.
Thorp GM en Paarl bewaringsinstansies het vanjaar ooreengekom dat die sentrale gedeelte van die verlore historiese gebou tussen Huis Vergenoegd en La Romantica herbou word.
Die twee glas- en staalflanke sal in ’n moderne idioom hanteer word, sê Johan Malherbe, en sal die historiese gebou in verhouding en uitleg reflekteer.
Paarl 300 Stigting het aangedui dat daar ’n finansiële bydrae gemaak gaan word tot die nuwe fasade.
Konstruksie het hierdie week begin en sal na verwagting vroeg November voltooi wees.
Thorp se handelaarshoof, Dirk Burger, het beloof dat kliënte nie verontrief behoort te word nie. Besoekers kan die volgende drie maande slegs die suidelike ingang gebruik.
More
News
|