Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Landboukundig 'ongeletterd'

Landboukundig 'ongeletterd'
 
2009-05-14


DIE oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse gesinne (veral Afrikaanssprekendes) kan binne drie generasies hul wortels terug volg tot op die plaas. As hul oupas nie boere was nie, beslis oupagrootjie.

Tog is dit skokkend hoe dié mense hul bande, kennis en aanvoeling met voedselproduksie en die land se boere binne een generasie verloor het, soos ek geleer het by die Bien Donné kaasfees se beesstalletjie. Ek en Pieter Loubser van Malmesbury moes bontstaan om die publiek se vrae te beantwoord.

Die heel eerste ding wat opgeval het, is die behoefte van mense om te kan vat aan ’n lewende koei. Ons het ons hande vol gehad om kinders en mense van die koeie se grootse wapen, haar agterpote, weg te hou. Almal was eerder bang vir die bytslag en gaan staan reg agter die koei. Vir honderde mense moes ons verduidelik dat ’n koei nie byt soos ’n hond of perd nie, maar eerder skop as sy skrik.

Wanneer ons vertel dat koeie net twee tot drie maande per jaar nie dragtig is nie, is hulle nogal geskok. Om melk te produseer moet ’n koei elke jaar kalf! Waar anders gaan die melk vandaan kom?

Dan was daar die dosyne kinders wat gekyk het wanneer die koei gemelk is en die melk deur omstanders vars gedrink is. Die kinders het hul neuse opgetrek en gesê dat hulle slegs winkelmelk drink. Daar was ook die jonge dame wat ’n Afrika-troue in Londen wil hê. Sy soek beesvelle, maar dit mag net koeie wees “who died of old age.”

Ek verduidelik toe aan haar dat koeie van rondom 10-15 jaar se tande totaal geslyt is en dan nie meer behoorlik kan herkou nie. Sulke koeie word dan... nou ja „uitgesit“, en beland op die verbruiker se tafel as wors of maalvleis. Dit sal ’n sonde wees om hulle van ouderdom te laat vrek.

Wanneer die koeie gaan lê en herkou het verskeie tannies gevra: “How could you tie them up? Look how tired the poor animals are, they are even lying down!“

Nou ja dan is dit nou weer ’n biologieles, van koeie se spysvertering, dat hulle verkies om te lê en herkou. Ek wys dan hoe die bolletjie herkoutjie in die dier se keel opkom en dan hoe die koeie weer rustig kou en dan weer sluk.

Die meeste mense meen die koei gee die melk “verniet” en die produk is te duur. Ek moes hulle inlig dat een liter melk se produksiekoste tussen R2 en R3 per liter beloop, afhangende van die stelsel (volvoer of weiding).

Dit sluit in kostes soos arbeid, behuising van plaasarbeiders, elektrisiteit om voer te meng, te melk en water te bespuit op die weidings, herstelwerk, kragvoer, kunsmis en veemedisyne aankope. Die boer kry minder as R3 per liter terwyl rakpryse tot R8 kan beloop en kan skaars ’n salaris verhaal.

Gehalte van voedsel kan slegs gewaarborg word wanneer produsente na wense vir hul produk betaal word. MJ Swart




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za