OP Vrydag 15 Mei om 20:00 tree die sangeres Catherine Jones by die Ou Meul-teater op.
Catherine is daardie jong, uitbundige donkerkop met die unieke stem - Suid Afrika se soetlief-sangeres - wat onlangs haar debuutverskyning op Noot vir Noot gemaak het.
Haar vertonings onderstreep haar musikale briljantheid.
Sy sing oorspronklike volwasse, kontemporęre liedjies, uit haar eie pen wat bindende stories vertel.
Die romantiese spontaneďteit daarvan bied ontvlugting aan een en elk wat van smaakvolle, akoestiese eerlikheid hou.
Wanneer die eerste klanke van haar unieke vertolking van Koos du Plessis se “Kinders van die Wind” opklink, dwing sy haar gehoor keer op keer tot spontane applous.
Daar is heimwee in haar vokale bekoring - en moenie verbaas wees as jy hier en daar ’n traan moet wegvee op die maat van ’n liefdesballade nie.
Die kraakvars nuwe melodieë en lirieke bly in jou gedagtes ronddartel lank nadat die laaste note reeds vervaag het.
Hierdie is ’n produksie wat selfs die mees swygsame resensent aan die praat het. Moet dit nie misloop nie!
Catherine is ‘n klassieke pianis, en sy is ook opgelei in kitaar en fluit. Sy het begin liedjies skryf op die ouderdom van 14-jaar.
Kaartjies vir die vertoning kos R70 en besprekings kan by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of by vstemmet@gmail.com gedoen word.