Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwe verseboek sien die lig

Nuwe verseboek sien die lig
 
2009-05-14

Johan Nel

DIE geboorte van die Nuwe Kinderverseboek is deur ’n klomp toevallighede voorafgegaan – toevallighede wat eintlik nie aan die toeval toegeskryf behoort te word nie, vertel skrywer Riana Scheepers van Wellington, wat saam met Suzette Kotzé-Myburgh vir die skep van dié opwindende nuwe verseboek vir klein mensies verantwoordelik was.

Riana, wat Dinsdag 19 Mei by die Wellingtonse gespreksgroep, Oop Gesprek, oor die rol van poësie in die lewe van kleuters gaan praat, sê dat die sanger, Niël Rademan, toevallig in 2007 by haar wou weet watter kinderverse sy vir gebruik in nuwe Afrikaanse liedjies sou aanbeveel.

Sy het DJ Opperman se Kleuterverseboek nader getrek en tot haar skok ontdek dat die 1957-uitgawe van dié boek die enigste uitgawe is wat ooit uitgegee is.

“Ek is toevallig in 1957 gebore en het dus baie goed geweet dat daar reeds ’n volle 50 jaar verloop het sedert die boek die eerste keer verskyn het!

“Ek het ook geweet dat hierdie verseboek dringend bygewerk en her-uitgegee behoort te word, maar dit was 2007 - ek het toevallig pas, Die Melkweg Het ’n Ster Laat Val, voltooi en ek het myself plegtig belowe dat ek nooit, ooit weer die taak om ’n boek te maak wat uit ’n klomp verskillende bydraes saamgestel word, sal aanpak nie – dis verskriklike harde werk!”

Suzette Kotzé-Myburgh, ’n gesoute uitgewer, het egter aangebied om saam met haar te begin om ’n splinternuwe kinderverseboek saam te stel. Hulle het landwyd in koerante oupas en oumas, ma’s, pa’s, aspirant-digters – kortom álmal - genooi om vir hulle nuwe kinderverse te stuur.

“Die reaksie was oorweldigend. Binne ’n japtrap het ons oor ’n skat van meer as 1000 nuwe kinderverse beskik. Bekende skrywers en digters wat gedurende die afgelope 50 jaar nuwe kinderverse gemaak het, se verse is ook bymekaargemaak.

“Uiteindelik het ons twee, uit al hierdie nuwe verse, plus die verse wat in die eerste uitgawe van Kleuterverseboek gebruik is, elkeen twee aparte lyste saamgestel van verse wat in die nuwe boek opgeneem behoort te word.

“Die merkwaardige is dat ons twee se lyste feitlik 95% ooreengestem het. Dit was uiteindelik maklik om ’n finale keuse vir ons nuwe Kinderverseboek te maak.”

Die bekende skrywer en letterkundige, André P Brink, sê in ’n onlangse resensie van die Nuwe Kinderverseboek dat ook ouers hulle aan die boek sal verkneuter.

Scheepers sê die verseboek het haar opnuut bewus gemaak van die rol wat verse in die ontwikkeling van jong kinders speel, van hoe dit selfs getraumatiseerde kleuters kan laat ontspan en hoe dit jong kinders kan help om kognitief te ontwikkel.

Oor al die dinge gaan sy op 19 Mei by die Oop Gesprek-byeenkoms by die Halt ’n Bietjie-koffiekroeg op Wellington gesels. Meer besonderhede kan verkry word by 083-661-8363.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za