Boland krieket soek glorie
2005-03-17
DIE keurders van die Boland Amateur krieketspan het besluit om te volstaan by die spankeuse wat hulle tot in die eindstryd van die Provinsiale A-span eendagkompetisie gebring het.
Die eindstryd word Saterdag op Boland Park in die Paarl beslis en slegs die Vrystaat staan in die pad van die tuisspan se bekerglorie.
Teen druktyd het die span se afrigter, Deon Smith, nog nie die Vrystaat se spankeuse ontvang nie en kon hy gevolglik nie dié span se gevaarmanne uitsonder nie.
“Ek dink egter die kolwer, Benji Hector, (’n oud-Bolander) sal een van die spelers wees wat ons vinnig sal wil uitboul,” het Smith gesê. Hy het bygevoeg dat die span se voorbereidingsessies in die nette die afgelope week heel goed afgeloop het.
“Ek dink ons voorbereiding was deeglik. Die spelers moet net speel soos hulle in die vorige wedstryde gespeel het en moenie dat die oomblik vir hulle te groot raak nie. Maar in die een-tot-een sessies wat ons met die spelers gehad het, het hulle dit laat blyk dat hulle gefokus is op die finaal.”
Die wedstryd begin om 10:00. Die span is Henry Davids, Clifford Prinsloo, Wian Smith, Rayno Arendse, Henry Fourie, Wesley Euley, Brandon Adams, Wallace Albertyn (k), Jacques van Wyk, Mario Olivier, Bardo Fransman, Jonathan Clark (12de man).
More
News
|