Kotze het 'eerste geslaan'
2009-05-14
Liezl Dyson
TWEE getuies het verlede week (8 Mei) in die Paarlse landdroshof getuig in die aanrandingsaak teen Dan Kotze, voormalige ANC raadslid van die Drakenstein Munisipaliteit en afgesette voorsitter van die ANC Boland streek. Kotze word daarvan beskuldig dat hy Trevor en Joan Ernstzen van die plaas Le Fut aangerand het tydens ’n onenigheid oor die uitsetting van ’n plaaswerker. Konstabel Maynard Engelbrecht het getuig dat toe hy op die toneel aankom, het hy Trevor en Joan Ernstzen in hul motor aangetref omdat hulle op pad hospitaal toe was. Trevor het ’n sny op sy neus gehad en sy gesig was blou en opgeswel en Joan het vreesbevange en geskok gelyk terwyl haar man half bewusteloos in die motor lę. “Hulle was op pad hospitaal toe en ek het agter hulle aangery. Joan Ernstzen het vir my ’n foto gewys van een van die mense wat by die aanranding betrokke was, maar die man het nie vir my soos mnr Dan Kotze gelyk nie,” het Engelbrecht getuig. Volgende in die getuiebank was Cornelius Ritsenberg, ’n plaasarbeider, wat op sy beurt getuig het dat hy die beskuldigde en nog ’n man met ’n Polo by die plaas sien inry het. “Trevor het agter mnr Dan Kotze geloop en vir hom gevra wat soek hy op sy eiendom, waarna mnr Kotze omgedraai het en na hom toe geslaan het. “Mnr Trevor Ernstzen het geval en toe sit mnr Kotze bo op Trevor en slaan hom met sy vuiste in die gesig. Trevor het toe daar uit gelę. Kotze wou hom gryp omdat hy “die Kleurlinge afstaan”. Volgens Ritsenberg het hy toe vir Kotze ontduik deur in ’n sloot weg te kruip. “Toe ek weer opstaan toe sien ek net mev Joan Ernstzen lę op die grond en mnr Dan Kotze skop haar in die sy en in haar nek.” Hy het getuig dat hy egter nie weet hoe sy op die grond beland het nie. Tydens kruisverhoor het Duncan Korabie, Kotze se regsverteenwoordig, vir Ritsenberg gevra of hy Trevor en Kotze gesien of gehoor argumenteer het, waarop hy nee geantwoord het. Korabie het aan hom voorgehou dat al die getuies voor hom gesę het daar was ’n woordewisseling tussen die twee mans. Ritsenberg het volgehou dat hy net kan getuig waarvan hy weet.
More
News
|